Zuma soos 'n kat op 'n warm sinkplaat met kommissie van ondersoek na staatskaping

2018-01-10
Die Redaksie

President Jacob Zuma se aanwysing van ʼn regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping soos bepaal deur die verslag van die vorige Openbare Beskermer (OB), Thuli Madonsela, word verwelkom, maar dit is nogtans duidelik ʼn desperate poging van pres. Zuma om polities te oorleef en nie herroep te word nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê die feit dat die besluit gisteraand laat aangekondig is, net voor die ANC-NUK se vergadering, asook die feit dat pres. Zuma appèl aangeteken het teen die hofuitspraak rakende die kommissie waar hy wou verhinder dat die voorsitter deur die hoofregter aangestel word, wys dat hy soos ʼn kat op ʼn warm sinkplaat optree.

Almal wat by staatskaping betrokke was en korrupsie in die proses gepleeg het, moet die volle prys daarvoor betaal.

- Dr Pieter Groenewald

“Deur die hoofregter te vra om te besluit oor die voorsitter, waar adjunk-hoofregter Ray Zondo nou wel aangewys is, wys dat pres. Zuma bereid is om homself te repudieer in 'n poging om te verseker dat hy polities oorleef deur nie herroep te word nie."

Groenewald meen die feit dat hy ook die verwysingsraamwerk van die aanvanklike aanbevelings in die verslag van die OB wil uitbrei deur opdrag te gee dat alle staatskaping en alle persone wat daarby betrokke is behoorlik ondersoek moet word, is ʼn verdere bewys dat pres.Zuma alles in sy vermoë sal doen om aan te bly as president van die land.

Hierdeur stuur hy ʼn boodskap dat hy nie alleen die verantwoordelikheid van staatskaping op hom gaan neem nie."

Groenewald sê die VF Plus se standpunt is dat almal wat by staatskaping betrokke was en korrupsie in die proses gepleeg het, die volle prys daarvoor moet betaal.

“Die kommissie se raamwerk moet net nie so omvangryk gemaak word dat die ondersoek nie behoorlik gedoen kan word en Zuma op dié manier gevrywaar word nie,” sê dr. Groenewald.