Zuma as naald van morele kompas laat Suid-Afrika rigtingloos

2017-02-15
Dr Pieter Groenewald

Dit is pres. Jacob Zuma se skuld dat Suid-Afrika hom op ʼn rigtinglose koers sonder morele kompas bevind, en dan word die skuld vir die president se eie mislukkings boonop op wit mense gepak, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die debat oor die staatsrede gesê hy skaam hom oor wat in die parlement gebeur, en het die publiek van Suid-Afrika om verskoning gevra vir die gedrag van sommige parlementslede.

“Hierdie is die raadsale waar die wette gemaak word wat die mense van Suid-Afrika moet gehoorsaam. Maar wat is die boodskap wat die publiek kry as hulle kyk na wat met die opening van die parlement gebeur het en wat ook nou in hierdie debat gebeur?

“Hulle sal sien dat geskille en verskille opgelos word deur op mekaar te skreeu en te vloek, en dat jy met geweld stilgemaak moet word. Dit is so erg dat ʼn mens soms skaam is om te sê jy is ʼn parlementslid.

“Die minister in die presidensie sê die land moet weer sy morele kompas vind. Dit is waar. Maar dit moet in gedagte gehou word dat president Jacob Zuma die naald van hierdie kompas is en dit is sy skuld dat Suid-Afrika sy morele koers verloor het.

“Wanneer die president die land se Grondwet verbreek en net hoef jammer te sê, hoe kan hy van die land se inwoners verwag om die land se wette te gehoorsaam? Dan kan hulle ook mos wette breek en bloot jammer sê daaroor? Dit is hoekom ons misdaadvlakke so hoog is.

“Net so het die Waterkloof-landing van die Guptas gewys dat ʼn mens ook kan doen wat jy wil as jy net die regte kontakte het. Suid-Afrika se morele kompas is stukkend, en die president is die hoofrede daarvoor.

“Wat die sogenaamde radikale ekonomiese transformasieplan aanbetref, het die president bloot herhaal wat onlangs in die ANC se bosberaad gesê is dat die land se kapitalistiese ekonomiese bestel met ʼn regeringsbeheerde ontwikkelingstelsel vervang moet word.

“Daar kan bloot na die ANC-regering se baanrekord gekyk word om die implikasie hiervan te besef. Wat het die regering gedoen met die land se openbare ondernemings wat hy beheer? Wat het gebeur met die SAL, SA Express en Eskom? Net soos met hulle gebeur het, sal die land se ekonomie bankrot raak.

“Indien ons ekonomiese groei en werkskepping in die land wil hê, moet daar ʼn moratorium geplaas word op swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA).

“Die tyd het ook aangebreek dat die president sê wat hy het teen wit mense. Elke keer as daar iets in die land fout gaan, pak hy die skuld op die wittes van Suid-Afrika. Hy gebruik wittes as ʼn rookskerm om sy eie swakhede en onbevoegdhede te verbloem.

“Hy se niks oor die 11 plaasmoorde die afgelope maand nie. Dit is ʼn skande om wittes heeltyd die skuld vir sy eie mislukkings te gee,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403