Wêreld neem kennis van moord en geweld in Suid-Afrika

2015-04-24
Dr Pieter Groenewald

Nie net die xenofobiese moorde en geweld in Suid-Afrika het die wêreld se aandag op die land gevestig nie, maar van die vyftien wrede moorde op wittes die afgelope maand het ook skokgolwe deur die wêreld gestuur terwyl dit plaaslik skaars ʼn rimpeling veroorsaak het, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Veral die moord op die bejaarde non Getrude Tiefenbacher (86), asook ʼn bekende in die internasionale rolprentindustrie, mnr. Greg Poutsie (45), weerklink wêreldwyd. In Suid-Afrika het die media skaars daarvan kennis geneem.

Poutsie, van Ramsgate in KwaZulu-Natal, het in verskeie rolprente soos Tarzan and the Lost City, Shark Attack en Warhead opgetree as waaghals, en het ook kleiner rolle in ander prente vertolk. Hy was ʼn professionele duiker wat gereeld oorsese duikers vergesel het en het in sy vrye tyd noodhulp-opleiding aan jong mense van die omgewing aangebied.

Hy is op Donderdag 16 April dood na ʼn inbraak by sy huis. Sy motor is onder meer geroof.

Terwyl medelye oor sy dood vanoor die hele wêreld na sy naasbestaandes instroom, het in Suid-Afrika net een klein beriggie in ʼn plaaslike koerant, die South Coast Herald, verskyn.

Oor die dood van Tiefenbacher van Ixopo, ook in KwaZulu-Natal, en die wrede manier waarop sy vermoedelik verkrag en daarna keel afgesny is, word op die internet in verskeie wêreldtale berig. Luidens van die berigte het sy sestig jaar gelede as ʼn jong Oostenrykse meisie na Suid-Afrika gekom om liefdadigheidswerk onder swart gemeenskappe te doen.

In die plaaslike media kan feitlik niks opgespoor word oor die dood van Tiefenbacher en Poustie, en nog vyf van die vyftien wit Suid-Afrikaners wat die maand vermoor is nie.

Dr. Groenewald sê dit is ʼn tragiese refleksie op die toestand in Suid-Afrika dat misdaad so alledaags geword het dat selfs moord feitlik nie meer nuus is nie.

“Ons is as ʼn samelewing besig om afgestomp te raak vir moord en geweld. In ʼn woongebied soos Khayelitsha word gemiddeld sowat vier mense per naweek vermoor. Hoor ons ooit daarvan?

“Volgens statistiek van die Transvaalse Landbou-Unie is 19 mense hierdie jaar al op plase en kleinhoewes vermoor. Die vraag kan gevra word waarom die ANC-regering nie die slagting onder sy eie mense en op plase met ewe veel ywer aanpak as die wat hy met die xenofobiese geweldpleging gedoen het waar selfs die weermag ontplooi is nie,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403