Vryheid moet deur werk verdien word

2015-05-05
Dr Pieter Groenewald

Vryheid is iets waarvoor gewerk moet word, dit kom nie in die vorm van ʼn sosiale toelaag nie, het dr. Pieter Groenewald vandag in ʼn parlementêre debat oor Vryheidsdag gesê.

Hy ook gesê die ANC-regering kan nie voortgaan om wit mense van die land uit die samelewing te rangeer terwyl hul bydraes en belasting goed genoeg is nie.

“U moet besef dat wittes nie net die melkkoeie van Suid-Afrika kan wees nie. U moet hulle erken,” het dr. Groenewald gesê.

Volgens dr. Groenewald kan daar nie van vryheid in Suid-Afrika gepraat word indien in ag geneem word wat net die afgelope anderhalwe maand in die land gebeur het nie.

“Indien gekyk word na die aanval op die Afrikaner se geskiedenis, die beskadiging van beelde en die plundering van winkels, kan eerder gesê word die land het ʼn misdadige land geword.

“Die ekonomie kan nie vry gemaak word indien 17 miljoen mense afhanklik is van die een of ander vorm van sosiale toelaag nie. Dit maak hulle nie vry nie. Dit maak hulle afhanklik van die ANC want die ANC het hul stemme nodig. Dit is nie vryheid nie.

“Indien daar voortgegaan word met Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) sal daar nie ekonomiese groei plaasvind om werk te skep om die mense van Suid-Afrika vry te maak nie.

“Daar kan nie net die hele tyd bakhand gestaan word nie. Ons moet begin werk. Vryheid kom nie verniet nie. Dit is iets waarvoor gewerk moet word.

“Indien die regering nie ingryp by vakbonde en hulle as vennote uitskakel nie, sal hierdie verhouding Suid-Afrika vernietig. Die regering sal moet ingryp en daadwerklik optree teen sy vennote.

“Daar moet ook ontslae geraak word van die kommuniste in die ANC aangesien sosialisme ʼn sekere resep is vir chaos, wanorde en armoede,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403