Vroue lei deur karakter; benodig nie kunsmatige kwotas om gelykheid te bevorder nie

2018-08-08
Die Redaksie

"Vroue moet hul waarde en plek in die samelewing besef en eien.  Ons behoort ons nie aan ‘n kwotastelsel te onderwerp vir poste en posisies nie.  Deur dit te doen erken ons dat ons hulp nodig het om gelyke behandeling te ontvang.  Ware geslagsgelykheid kan nie met kwotas bekom word nie," het Tammy Wessels, VF Plus-LPW tydens 'n Vroudedagdebat in die Vrystaatse Wetgewer gesê.

Wessels sê vroue behoort nou weer soos die vroue van die verlede op te staan vir dit wat hulle toekom en nie wag vir kwotas en kunsmatige bevoordeling nie. 

"Ons leef in uitdagende, onverdraagsame en identiteitlose tye.  Ons het vergeet waar ons vandaan kom, omdat politici en ander groeperinge populistiese uitsprake maak oor die Afrikaner- en Suid-Afrikaanse geskiedenis.

"Dit is egter belangrik om te onthou dat vroue van Suid-Afrika en spesifiek Afrikanervroue ‘n geskiedenis van krag en deursettingsvermoë het om op trots te wees. 

"Die Vrouemonument wat in 1913 opgerig is ter herdenking van die 34 000 vroue en kinders wat gedurende die Anglo-Boereoorlog gesterf het, is nie net ‘n simbool van liefde en vergifnis nie, maar ook van die vroue se krag. Afrikanervroue was die ware “bittereinders” tydens die oorlog.

"Vrouedag in Suid-Afrika moet die rol en stryd van alle vroue in die land se geskiedenis vier, nie net die van ANC-vroue nie.

"Vroue kan trots wees op die gedeelde geskiedenis en moet deur middel van hul karakter leiding gee gedurende uitdagende omstandighede deur liefde, verdraagsaamheid en trots in die samelewing te kweek," het Wessels gesê.