VF Plus steun dr. Dan Matjila, OBK-voorsitter, se weerstand teen stroping van GEPF en ander pensioenfondse

2017-09-26
Adv Anton Alberts

Daar is agter die skerms groot druk op dr. Dan Matjila, voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) om toe te gee aan eise dat die staatsdiens se pensioenfondse gebruik word om sukkelende staatsentiteite van ondergang te red, en die VF Plus steun dr. Matjila ten volle in sy stryd, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts sê onlangse berigte dat die minister van finansies, min. Malusi Gigaba, die OBK wil dwing om op hierdie wyse staatsentiteite finansieel te red, is uiters kommerwekkend, en die VF Plus sal hom nie laat flous deur die minister se ontkennings hieroor nie.

Volgens adv. Alberts het die party van bronne in die OBK verneem dat daar 'n werklike aanval op dr. Matjila is om die OBK-raad te dwing om pensioenarisse se geld in gekaapte en falende entiteite soos SAL, ESKOM, PetroSA en ander in te stoot.

“Die VF Plus steun dr. Matjila en sy span daarom ten volle en het reeds 'n regspan in plek om namens die GEPF-pensioenarisse op dieselfde gebeurlikheidsgrondslag op te tree as die regspan van die Transnet-pensioenarisse.

“Daar kan geen waarde geheg word aan die minister se uitsprake dat hy geen amptelike óf nie-amptelike versoeke aan die OBK gerig het om R100 miljard van sy geld as reddingsboei vir die entiteite te gebruik nie. Die ANC het al by herhaling gewys dat hy nie vertrou kan word nie.

“Die VF Plus hou die situasie fyn dop en sal die regspan versoek om op te tree indien die OBK se geld wel in die gedrang kom,” sê adv. Alberts.