VF Plus stap uit parlement na chaos

2017-02-09
Dr Pieter Groenewald

Omstandighede in die nasionale vergadering het vandag so ʼn chaotiese laagtepunt bereik weens die optrede van die EFF en van sy ondersteuners in die openbare galery dat die VF Plus ʼn punt bereik het waar hy nie anders kon nie as om uit te stap nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

‘n Tipe van traangas is ook op die galery tussen die publiek ingegooi deur ondersteuners van die EFF. Die veiligheid van die gaste is daardeur bedreig. Hierdie optrede in die parlement bevestig die feit dat Suid-Afrika ontaard in ‘n piesangrepubliek.

In die raadsaal kon die voorsittende beamptes nie die berekende chaos beheer wat vir meer as ʼn uur ononderbroke voortgeduur het nie. Dit het uiteindelik tot chaos en vandalisme gelei waar stoele gebreek is en waterbottels en harde hoede rondgegooi is.

As sulke wangedrag in die hoogste raadsaal van die land plaasvind wat as voorbeeld vir alle Suid-Afrikaners moet dien, hoe kan daar van die publiek verwag word om die wette en die reëls van die land te gehoorsaam?

Die ANC en EFF moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie vandalistiese optrede in die parlement.

Die VF Plus kan hom nie assosieer met sulke omstandighede binne die parlement nie. Dit is ʼn verleentheid, en die VF Plus het daarom die raadsaal verlaat.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403