VF Plus se voorlegging oor minderheidsregte by konferensie van die VF Plus en UNPO

2013-11-21
Dr Corné Mulder

Die internasionale konferensie wat die Vryheidsfront Plus vandag in samewerking met die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) aangebied het, is ‘n historiese gebeurtenis wat betref die stryd om die regte van minderhede in Suid-Afrika, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep.

“Die gesprek het ons vandag perspektiewe van baie verskillende gemeenskappe van Suid-Afrika gegee. Dit is ook verblydend om te weet daar is ‘n organisasie soos UNPO, want dit wys ons is nie alleen in die stryd nie,” het dr. Mulder gesê. 

  • Ons is dit eens dat die vergadering vandag waar minderheidsregte vanuit Suid-Afrikaanse en internasionale perspektiewe bespreek is, ‘n belangrike en grondverskuiwende eerste stap is in Suid-Afrika se toekomstige staatkundige ontwikkeling;

 

  • Ons siening is dat lande in die algemeen en in die besonder die Suid-Afrikaanse regering die aard van minderhede se identiteit en uiteenlopendheid erken en om hierdie realiteit grondwetlik te akkommodeer;

 

  • Ons siening is dat minderhede se aandrang op regte heeltemal in lyn is met internasionale standaarde en norme;

 

  • Ons almal streef na vryheid, maar ware vryheid beteken die erkenning van diversiteit teenoor gedwonge eenvormigheid;

 

  • Ons glo dat ons in eenheid hieroor kan saamwerk binne die raamwerk van internasionale voorskrifte en dat ons sal voortgaan met gesprekke en dialoog in die belang van die gemeenskappe wat ons verteenwoordig.