VF Plus se leier 'ry die tiere'

2017-02-06
Die Redaksie

VF Plus se leier 'ry die tiere'

Deur Alicestine October 04 Februarie 2017 (Artikel in Volksblad en Netwerk24)

’n Mens weet onmiddellik waar jy staan met dr. Pieter Groenewald, die man wat die VF Plus sal moet stuur deur nog ’n onstuimige jaar in die politiek.

Dit is nog begindae vir Groenewald wat by die ervare dr. Pieter Mulder oorgeneem het.

Maar Groenewald, een van vier VF Plus-LP’s, is self ’n gesoute politikus wat ’n ding sê soos hy is.

 

Reguit.

Soms word dit in parlementsittings waardeer en ander kere plaas hy hom en sy standpunte lynreg teenoor die ANC-LP’s.

’n Bangbroek is hy nie. In sy dienspligdae in 1974 by die Berede Sentrum op Potchefstroom was hy een van ’n klein groepie wat ’n Romeinse rit op vyf en later sewe perde gedoen het.

“Jy moet die houe kan vat.”

Die Romeinse rit is ’n balanseertoertjie waar jy regop staan op die rug van vyf of sewe perde en almal op volle galop moet beheer.

“Jy moet die houe kan vat,” sê hy.

“Daar is ’n slagspreuk: He who rides a tiger, cannot ­dismount. Wat dit eintlik beteken, is dat as jy afval, gaan hy jou opvreet.” Groenewald meen die politiek is soos dié Romeinse toertjie: waaghalsig.

“As een van die perde struikel, kan jy val. Jy moet krag hê om daai perde bymekaar te hou, en elkeen het afsonderlike teuels.

“Die politiek is net so uitdagend, veral in vandag se tyd. Dinge kan vinnig verander, want die een oomblik dink jy dit is rustig en die volgende oomblik is alles onstuimig.”

Groenewald in die ontvangslokaal van die VF Plus se kantore by die parlement.Foto:

En hy weet dinge kan in die ­politiek vinnig verander.

In ­November verlede jaar is hy tot leier verkies nadat Mulder die party die afgelope 15 jaar gelei het.

Groenewald erken hulle is onkant betrap toe Mulder sy uittrede aangekondig het.

“Ons het dit nie verwag nie. Ek was die party se voorsitter van 2011 af en dus as’t ware tweede in bevel. Hy het eenkeer aan my as voorsitter van die party genoem hy beplan dit, maar nie gesê hy gaan dit doen nie,” sê Groenewald oor dié dag in November.

Daar was nie stemwerwery nie. Die nuwe leier is onmid­dellik ná Mulder se uittrede ­gekies.

Groenewald meen dit is waarskynlik die beste manier om dit te doen. ’n Party se leierstryd kan vernietigend wees en eendrag ’n knou gee.

“Ek het ’n uitdagender styl as dr. Mulder.”

“Ek dink dit was strategies die regte ding om te doen vir dr. Mulder. Ek het nie ’n probleem met stemwerwing nie, maar in die politiek wil kandidate altyd vertel hoe sleg hul opponent is en die oomblik dat jy daardie benadering het, is daar altyd gevoelens ná die tyd en breek dit die eenheid.”

Groenewald en Mulder se persoonlikhede verskil.

“Ek het ’n uitdagender styl as dr. Mulder. Ek sal harder uitsprake maak, maar wat beleid betref, is ons missie dieselfde. Die party is ook reeds gemoderniseer om aan te pas by die ­nuwe omstandighede.”

Die kern van die VF Plus se missie is die beskerming van minderhede, sê hy.

 

Wie is die minderhede?

“Dit is Afrikaners,” maak hy dit duidelik. “Baie mense praat van wit mense, maar laat ons eerlik wees, nie alle wit mense is Afrikaners nie. En dan ook die bruin mense. Dít is die minderheidsgroepe wat tans benadeel word. Ons wil ’n stem wees vir minderhede.

“Ek is nie skaam om te sê ek wil veg vir die belange van die Afrikaner nie. Ek sê dit met trots.”

Hy sê hy is wel bereid om vir bruin mense te veg, maar die ideaal is om ’n bruin mens te kry wat kan lei sodat bruin mense vir hulself kan veg. “Want wie verstaan ’n bruin mens beter as ’n bruin mens?”

Die VF Plus het talle bruin kandidate gehad in die verkiesing verlede jaar. “Ongelukkig is nie een van die bruin kandidate verkies nie, maar van hulle dien steeds in ons partystruk­ture.”

Groenewald sê hulle kry ook navrae uit die Tswana- en ­Vendagemeenskap, wat ook minderheidsgroepe is.

“My droom is dat ons aan die einde van die dag kan sê daar is ’n soort VF Plus vir bruin mense wat vir bruin belange veg, VF Plus vir die Tswanas, of wie ook al.

“Ek kan veg vir sekere regte, ja, maar ek sal graag wil sien dat daar ’n sterk leier uit die Tswanas en Vendas is wat kan opstaan in die parlement en sê dié aspekte van my kultuur word teen gediskrimineer.”

Hy meen dié groepe moet ook vir mekaar se regte opstaan.

“As ek byvoorbeeld in die parlement opstaan en praat van regstellende aksie dan praat ek eintlik namens die Afrikaners en namens die bruin mense, want dis die twee groepe wat tans daardeur benadeel word.

“Daar is goed wat oorvleuel en waar ons vir mekaar kan opstaan en mekaar se hand kan versterk.”

Ons kan ’n wonderlike land hê as ons net wedersydse respek het vir mekaar se verskille, sê Groenewald.

“Met respek gaan jy nie die geweld en misdaad in Suid-Afrika hê nie, want as ek respek het vir jou, sal ek jou nie besteel nie. Ek wil amper sê die towerwoorde in Suid-Afrika is ‘wedersydse respek’.

“Ek sê altyd pres. Zuma het vier vrouens. Dit is nie deel van my kultuur nie, maar ek respekteer sy tradisies en kultuur. Wanneer ek dus in die buiteland gevra word of dit waar is van sy vier vroue, dan sê ek ja, want dit is die Zoeloekultuur.”

Dieselfde behoefte aan respek geld vir standbeelde.

“Kyk vir (Cecil John) Rhodes. Hy dateer uit die koloniale geskiedenis, ’n soort geskiedenis waarvan ek nie kan wegskram nie, maar dit is daar, deel van die ge­skiedenis.

“Daar is ’n aanslag teen standbeelde en spesifiek die Afrikaners se standbeelde. Die EFF is byvoorbeeld nie skaam om te sê die standbeelde moet eintlik vernietig word nie. Maar geskiedenis is geskiedenis. Wat gebeur het, het gebeur.

“Kyk byvoorbeeld koningin Victoria se standbeeldjie wat steeds daar is. Sy was aan bewind tydens die Anglo-Boereoorlog en Afrikaners was bitter, maar haar standbeeld is nie verwyder nie, want dit is deel van die geskiedenis.”

Hy bly eers ’n ruk stil.

“Ek sê altyd ons is ’n verskeidenheid van volke en elkeen het sy eie geskiedenis, so hoekom moet ons sommige se geskiedenis probeer wegsteek? ’n Mens kan nie die geskiedenis verander nie.”

“’n Mens kan nie die geskiedenis verander nie.”

Volgens hom was dit nog altyd die VF Plus se standpunt dat meer standbeelde opgerig moet word.

“Ons kyk nie eng na die ­geskiedenis nie, ons kyk na ­almal.

“Ek dink byvoorbeeld eerlikwaar daar is sedert 1994 te min standbeelde gebou vir die ­struggle se helde.”

Dat die VF Plus nog swaar aan sy politieke bagasie dra, is veral in parlementsittings duidelik wanneer hulle by tye herinner word hulle het “verloor” en moet stilbly.

Dit pla Groenewald nie.

“Wat dit betref, gaan ons steeds feitelik korrek optree en feitelike punte stel. Daarvan gaan ons nie afwyk nie.

“Mense moet ons oordeel oor wat ons sê en wat ons doen en nie ons oordeel oor wat hulle dínk ons is nie. Ons is beslis nie rassisties nie.”

Volgens hom het hy goeie verhoudings met LP’s oor rasgrense. “Van die LP’s het al gesê hulle het respek vir ons, want ten minste weet hulle waar hulle met ons staan.

“En ek dink dit is wat ons nodig het in die politiek. Ons moet nie skynheilig wees nie. Ons moet staan by ons standpunte en ons moet reguit sê dít is waarvoor ons staan.”

Hy wil die VF Plus sien groei met tot 20 setels, sê Groenewald.

Dié party en die DA is tans die grootste trekpleisters vir die wit stem en die VF Plus het reeds begin vry na die bruin stem.

“In ’n sekere opsig vang ons vis in dieselfde dam, ja, maar daar is belangrike beleidsverskille, veral oor grondhervorming en regstellende aksie.

“Die DA gaan nou spesifiek vir swart kiesers. Ek is reguit. Ek fokus op die Afrikanerstem, want ek wil graag die kampioen word vir die Afrikaner ­binne die parlement.”

Hy voeg vinnig by: “Maar ook vir ander minderheids­groepe.

“Jy sal nie die DA kry wat sterk na vore kom vir die Afrikaner nie,”

“Ons uitgangspunt is dat ’n mens moet besluit wat die belange is waarvoor jy moet veg en dan daarvoor veg. Ons sê ons veg vir die Afrikaner se belang en dié van minderhede.

“Jy sal nie die DA kry wat sterk na vore kom vir die Afrikaner nie, en dit is die verskil.”

Hy beklemtoon egter dat hy nie in ’n geveg met die DA betrokke wil raak nie.

“Ek dink ons moet almal saamstaan om die ANC te klop. Dit help nie die opposisie val mekaar aan nie. Die ANC gaan nie geklop word deur ’n enkele opposisieparty nie, maar deur ’n koalisie.”

Wat is die drie dinge waarop hy vanjaar sy energie gaan fokus?

“Die grondkwessie is beslis een, asook diskriminasie teen minderhede. Maar ek gaan my ook sterk uitspreek teen die ANC wat wit mense die sondebok maak vir al hul probleme.”