VF Plus lê klag by Openbare Beskermer oor riool en bloed in Zeerust-dam

2017-08-30
Karlien Venter

Riool en bloed wat van die Zeerust-rioolplaas in die Zeerust-dam vloei, skep ʼn ernstige gesondheidsrisiko en maak inbraak op inwoners se grondwetlike reg tot ʼn gesonde omgewing, sê Karlien Venter, VF Plus-raadslid in die Zeerust-munisipaliteit.

Venter het gister ʼn klag oor die rioolkrisis by die Openbare Beskermer (OB) ingedien.

Sy sê daar vloei reeds maande lank riool vanaf die rioolplaas tot in die Zeerust-dam. Daar vloei ook bloed saam met die riool in die watermassa in.

“Dit skep ʼn reuse gesondheidsrisiko, aangesien die gemeenskap afhanklik is van hierdie waterbronne vir daaglikse gebruik.

“Daar is ook inwoners wat in die dam visvang en die vis in die dorp verkoop.

“Hierdie probleem duur al vir maande, sonder dat die munisipaliteit enigsins ag slaan op die VF Plus se klagtes en vermanings. ʼn Klag is ook by die Groen Skerpioene ingedien.

“Die nalatigheid van die munisipaliteit maak inbraak op ons gemeenskap se grondwetlike reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie, soos vervat in Artikel 24 van die Grondwet.

“Hulle oortree ook nasionale waterwetgewing, asook die Nasionale Omgewingsbestuurswet en ons sal dit nie daar laat nie. Die gemeenskap van Ramotshere Moiloa verdien beter, het Venter gesê.