VF Plus en boeregemeenskap van Suid-Kaap vat hande om brandslagoffers te help

2017-06-20
Dr Pieter Groenewald

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vandag die brandgeteisterde Suid-Kaap besoek en gesprekke met onder andere van die slagoffers, die polisie en georganiseerde boeregemeenskap gevoer. Hier volg sy indrukke:

“ʼn Besoek aan die brandgeteisterde gebied van Knysna en omgewing laat ʼn mens eers werklik die omvang van die ramp en die skade besef. Dit is verstommend om mense te besoek wat letterlik net by die fondasie van hul huis staan met die oorblyfsels van hul besittings op ʼn rommelhoop.

My ervaring is dat die mense groot deursettingsvermoë aan die dag lê en weer van voor af begin bou aan dit wat hulle verloor het.

Ek het ook in gesprekke agtergekom dat die mense baie dankbaar is vir die hulp van instellings en mede Suid-Afrikaners. In ʼn gesprek met ʼn verteenwoordiger van die Lions-klub het hy gesê die mense se trots verhinder hulle om na vore kom en hulp te vra terwyl dit wel beskikbaar is.

Die verwoesting raak nie net die mense nie, maar ook die diere en dit is duidelik dat vuur nie onderskei tussen arm en ryk nie.

Daar word nog baie hulp benodig, veral vir boere wat moet kos kry vir hul vee. Die VF Plus het daarom besluit om in samewerking met die Plettenbergbaai-boerevereniging die publiek te vra om mildelik geldelik by te dra tot die vereniging se onkostes om voer aan te ry na die gebied.

Die vereniging se bankbesonderhede is soos volg:
Plettenberg Bay Farmers Association
Standerdbank
Rekeningnommer: 186 870 590
Taknommer: 050314

Dit is werklik ʼn emosionele ervaring om met mense te praat wat ten spyte van die totale vernietiging van hul aardse besittings nog steeds hoop het op die toekoms en die VF Plus kan hulle net sterkte toewens.

Uit verskeie gesprekke wil dit voorkom asof die oorsprong van die brand enersyds ʼn smeulende vuur was soos in die media daaroor berig is en waar daar nie na behore opgetree is deur Sedgefield se munisipaliteit nie. ʼn Bykomende rede is dat die sterk winde bome op kragdrade laat beland het en sodoende brande veroorsaak het.

Die VF Plus se voorstel is dat Eskom in sulke stormagtige omstandighede met groot brandgevaar die krag as noodmaatreël in sekere gebiede moet afskakel.

Ek het ook die polisie besoek en is meegedeel dat ‘n taakspan saamgestel is om die hele aangeleentheid te ondersoek, ook wat die moontlikheid van brandstigting aanbetref. Aangesien mense in hierdie omstandighede dood is, is dossiere van strafbare manslag aangelê en word dit ondersoek.

Die VF Plus sal voorstelle aan die plaaslike regering maak om met instellings soos boereverenigings te skakel oor samewerking met brandvoorkoming ten einde soortgelyke rampe te voorkom.”


Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403