VF Plus bekommerd oor aanstelling van “Killer” Ximba as veiligheidshoof van Ekurhuleni-burgemeester

2018-08-10
Die Redaksie

Die VF Plus is bekommerd oor die aanstelling van Nkosana “Killer” Ximba as veiligheidshoof van die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina.

Ximba wat deur die burgemeester aangestel is, het ‘n omstrede misdaadgeskiedenis en die VF Plus is oortuig daar was ‘n meer geskikte kandidaat vir dié pos.

"Dit is nie duidelik wanneer Ximba aangestel is en of hy al begin het om sy pligte as veiligheidshoof van die burgemeester uit te voer nie," sê Jennifer Rautenbach, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad (Oos-Rand)

Ximba en die  voormalige misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli is in 1999 aangekla vir die moord op Oupa Ramogibe, `n polisie beampte by die Vosloorus-polisiestasie. Ximba was in dieselfde tydperk as Ramogibe se dood ook by Vosloorus-polisiestasie gestasioneer, en beide Ximba en Mdluli is later in verband met Ramogibe se dood gearresteer.

In 2015 is in die media verklaar dat Ximba `n kriminele rekord het en het die polisie bevestig dat hy onbevoeg is om ‘n polisiebeampte te wees.

"Volgens wetgewing word die burgemeester toegelaat om self sekere aanstellings te maak en kan hy die vereiste van sekere kwalifikasies kwytskel. Ximba blyk ‘n politieke aanstelling te wees eerder as bloot Masina se veiligheidshoof.

"Die VF Plus gaan die omstrede aanstelling verder ondersoek en die nodige stappe in die verband neem," sê Rautenbach.