Verkorte CV’s van eerste 25 kandidate op die VF Plus se nasionale kandidatelys

2014-03-20
Dr Pieter Mulder
  1. Dr. PWA (Pieter) Mulder

Dr. Pieter Mulder verwerf die graat BA (Kommunikasiekunde) aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, en twee jaar later die graad MA (Kommunikasiekunde) met onderskeiding. Hy word daarna as dosent in kommunikasiekunde by die universiteit aangestel.

In 1978, op 26-jarige ouderdom, verwerf hy sy doktorsgraad in kommunikasiekunde aan dié universiteit. Hy word in 1980 bevorder tot senior lektor, en in 1985 tot professor en departementshoof van die departement kommunikasiekunde.

Sy formele toetrede tot die politiek is in 1988 toe hy as parlementslid vir die Schweizer-Reneke-kiesafdeling verkies word. In 1994 is hy een van die stigterslede van die Vryheidsfront en in 2001 word hy tot leier van die party verkies. Hy is ook verkies tot die dagbestuur van die internasionale organisasie UNPO met sy hoofkantoor in Brussel.

Dr. Mulder is in 2009 aangestel as adjunkminister van landbou, bosbou en visserye. 

 

  1. Dr. PJ (Pieter) Groenewald

Dr. Groenewald is die parlementêre leier en voorsitter van die Vryheidsfront Plus en provinsiale leier van die party in Noordwes. 

Hy verwerf sy B.Iuris-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en voltooi daarna ’n nagraadse diploma in kommunikasiekunde. Hy verwerf ook ’n meestersgraad in bestuur en ontwikkeling en ’n doktorsgraad in politieke studies aan die Noordwes-Universiteit.

Dr. Groenewald is in 1989 tot die parlement verkies vanuit die kiesafdeling Stilfontein en in 1994 is hy 'n stigterslid van die Vryheidsfront. 

Hy dien tans in die portefeuljekomitees vir verdediging en polisie. Hy het voorheen reeds gedien op die portefeuljekomitees van veiligheid en sekuriteit, arbeid, kommunikasie, grondwet, justisie en plaaslike regering.

 

  1. Dr. CP (Corné) Mulder

Dr. Corné Mulder is die hoofsweep van die Vryheidsfront Plus in die parlement en ook die provinsiale leier in die Wes-Kaap. Sy formele toetrede tot die politiek was in 1988 toe hy as parlementslid vir die kiesafdeling Randfontein verkies is.

In 1980 behaal hy sy B.Iuris graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, met politieke wetenskap en internasionale politiek as ekstra hoofvakke. In 1982 voltooi hy sy LL.B.-graad met onderskeidings in verskeie vakke.

In 1984, op 26-jarige ouderdom, behaal hy sy doktorsgraad (LL.D.) in staatsreg.

Dr. Mulder is ook n stigterslid van die Vryheidsfront en hy is tans lid van die portefeuljekomitees vir buitelandse- sowel as binnelandse sake. Hy was betrokke by die skryf van die Suid-Afrikaanse Grondwet as lid van die Grondwetlike Komitee van die Grondwetlike Vergadering. 

 

  1. Mnr. Wouter Wessels

Mnr. Wessels is nasionale jeugleier van die Vryheidsfront Plus en is in 2013 tot die Vrystaatse Wetgewer verkies. 

Hy het in 2008 heeltyds vir die VF Plus begin werk en is in 2009 aangestel as direkteur in die kantoor van die adjunkminister van landbou, bosbou en visserye.

Hy is lid van die Vryheidsfront Plus se uitvoerende dagbestuur, die federale dagbestuur, onderleier in die Vrystaat en is die party se nasionale tegniese verkiesingsbestuurder.

Mnr. Wessels beklee die eerste posisie op die VF Plus se kandidaatlys vir die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer. Hy woon in Bloemfontein en stel belang in tegnologie, geskiedenis en die wetenskap. 

 

  1. Mnr. PJ (Pieter) Vorster

Mnr. Pieter Vorster was burgemeester van Bloemfontein en het verskeie kere sy gemeenskap as DA-stadsraadslid gedien. Hy het ook vir lank op die DA se Federale Raad gedien. Mnr. Vorster was tot Maandag die voorsitter van die Afrikanerbond en het as voorsitter bedank ten einde sy volle aandag aan die verkiesing te gee. Hy dien steeds in die organisasie se nasionale raad. Hy is 'n bekende in Vrystaatse regskringe en besit 'n prokureursfirma in Bloemfontein. Hy beskik oor die grade B.Juris, LLB, LLM en is 'n toegelate advokaat. 

Hy was die administratiewe hoof van die Kleineisehof in Bloemfontein.

Hy woon op ’n plaas buite Bloemfontein, is met Alida getroud en is pa van twee kinders en oupa van twee kleinkinders.

 

  1. Dr. Lourie Bosman

 Dr. Bosman was die afgelope vyf jaar 'n parlementslid vir die Demokratiese Alliansie (DA) en was ook die party se skadu-minister vir hoër onderwys en opvoeding.

Sy loopbaan het begin as apteker (B.Sc. (Pharm). MPS) in Lichtenburg vanaf 1965 tot 1978. Hy het intussen ook ’n suksesvolle bees- en mielieboerdery begin en het ’n uitgebreide Brahman-kudde in die Warmbad-omgewing.

Dr. Bosman het 'n leiersrol by verskeie landbou-organisasies vervul en was onder meer vise-president van die Transvaalse Landbou-Unie (TLU) (1997 - 1998), TLU se persoonlikheid van die jaar (1993), president van Agri Mpumalanga (1998 - 2004), vise-president van Agri SA (2000 - 2004) en president van Agri SA (2004 - 2008). 

Hy het provinsiale kleure van Wes-Transvaal en Griekwaland-Wes vir hokkie en was ook ’n uitblinker op die krieketveld.

 

  1. Dr. Wynand Boshoff

Dr. Boshoff verwerf in 1992 'n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria. In 1993 verhuis hy na Orania.

In 2004 verwerf hy sy meestersgraad in volhoubare landbou aan die Universiteit van die Vrystaat en in 2011 ’n Ph.D. in opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, alles vanuit Orania.

Hy beklee oor die jare verskillende poste in die landbou en onderwys, maar is die afgelope vyf jaar ’n vryskut navorser.

  

  1. Mnr. Andrew (André) Fourie

Mnr. Fourie is sedert 1962 in die politiek betrokke en het sy tande as politikus begin slyp as jeugleier van die destydse Verenigde Party.

In 1981 het hy die eerste keer parlementslid geword en van 1992 tot 1994 was hy minister van streek-en grondsake by die Nasionale Party.

Mnr. Fourie het in 2008 by die Vryheidsfront Plus betrokke geraak en is sedert 2011 die party se raadslid in die Stad Kaapstad. 

 

  1. Me. Amanda de Lange

Me. De Lange begin haar loopbaan in menslike hulpbronne by JCI waar sy kwalifiseer as psigometris. Sy verskuif later na Mondi Timber se mynbou-afdeling en begin haar B.Com-studies in besigheidsbestuur terwyl sy deel vorm van 'n span wat produknavorsing en bemarking doen.

Sy begin ’n eie blomboerdery met 18 tonnels en raak nou betrokke by gemeenskapsveiligheid deur as voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum te dien vir ’n paar jaar. Na haar uittrede as voorsitter neem sy in 2011 die uitdaging aan om heeltyds by die politiek betrokke te raak.

De Lange is ‘n medestigterslid van NABIFSA, ’n nasionale veiligheidsorganisasie. In 2013 word sy aangestel as die Vryheidsfront Plus se raadslid vir Mogale City.

 

10. Mnr. NJ (Niekie) van den Berg

Mnr. Van den Berg was die afgelope vyf jaar parlementslid vir die Demokratiese Alliansie (DA) en was die party se skadu-minister vir kommunikasie, kuns en kultuur.

Hy het ’n suksesvolle loopbaan as radio-omroeper- en regisseur, en TV-aanbieder en –regisseur agter die rug en beskik oor die grade BA en HOD wat hy aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO behaal het.

In sy dienstydperk by die DA was hy onder meer kiesafdelingshoof en lid van die Wes-Randse dagbestuur asook lid van die federale raad.

 

 11. Mnr. Pieter (Piet) Mey

Mnr. Mey is op 17 Mei 1948 in die distrik Willowmore in die Karoo gebore. In 1966 matrikuleer hy aan die Hoërskool Willowmore, waar hy ook hoofseun was. In 1966 sluit hy aan by die Suid-Afrikaanse Polisie en doen hy diens in Pretoria, Johannesburg, Lusikisiki, Port Elizabeth en Westernarea. In die tyd het hy aan die Universiteit van Port Elizabeth studeer waar hy sy B. Juris-graad in die regte verwerf het.

Hy het met die rang van luitenant uit die Polisie bedank en is sedert 1980 werksaam in die eiendomsbedryf.

 

12 Mnr. FC (Franco) de Lange

Mnr. De Lange is sedert 2009 Vryheidsfront Plus-raadslid en hoofsweep in die Johannesburg-metro. Voor sy politieke loopbaan was hy betrokke in die versekeringsbedryf.

Hy is tans die nasionale voorsitter van die party se finansiële komitee, Gauteng se afgevaardigde na die VF Plus se federale raad asook ’n Gautengse dagbestuurslid.

 

13. Mnr. WL (Werner) Weber

Mnr. Weber is leier van die Vryheidsfront Plus in Mpumalanga, was voorheen die parlementslid vir Wakkerstroom en nasionale leier van die Afrikanereenheidsbeweging.

Hy is ook nasionale leier van die Aksie Stop Plaasaanvalle, nasionale voorsitter van die Landbou Werkgewersorganisasie, nasionale vise-president van die Wattelkwekersunie, nasionale voorsitter van die SA Houtkwekersvereniging en voorsitter van TWK-koöperasie.

 

14. Mnr. PA (Philip) van Staden

 Mnr. Van Staden is die Vryheidsfront Plus se onderleier in Gauteng en die party se streekleier in Pretoria.

 Hy is tans VF Plus-raadslid en leier in die Tshwane-metroraad. Hy is ook lid van die party se federale dagbestuur en federale raad.

 

15. Mnr. FJ (Cois) Robbetze

Mnr. Robbetze is gebore en het opgegroei in Rustenburg, Noordwes. Hy het 'n nasionale diploma vir gesondheidsinspekteurs en 'n nasionale hoër-diploma in openbare gesondheid.

Hy woon in Margate aan die Suidkus van KwaZulu Natal, is getroud en het twee dogters en vyf kleinkinders.

 

16. Me. Tamarin (Tammy) Breedt

Me. Tammy Breedt is tans die Vryheidsfront Plus se Vrystaatse jeugleier. Sy is in Johannesburg gebore en het daar aan die Hoërskool Linden as top-presteerder gematrikuleer.

Tydens haar universiteitsjare was sy betrokke by studenteleierskap waar sy ’n huiskomiteelid, studenteraadslid, studente-parlementslid, asook speaker van die studente-parlement was.

Sy werk sedert 2009 vir die Vryheidsfront Plus in Bloemfontein waar sy ondersteuning aan raadslede in die Vrystaat bied. Sy dien op die Vrystaatse dagbestuur en stel in tale en kultuur belang.

 

17. Me. EDF (Elsa) Lourens

Me. Lourens is die Vryheidsfront Plus se raadslid vir die Madibeng-plaaslike munisipaliteit en is ook gesekondeer na Bojanala Platinum se distriksmunisipaliteit.  

Sy is lid van die VF Plus se dagbestuur in Noordwes en is ’n sekunde lid na die party se nasionale federale raad.

 

18. Mnr. Theo Coetzee

Mnr. Coetzee was die afgelope vyf jaar parlementslid vir die Demokratiese Alliansie (DA). Hy het 'n BA-graad van die Universiteit van die Vrystaat en is 'n kundige op die gebied van kredietbestuur.

Hy het die DA lank in verskeie strukture gedien en was onder meer vanaf 1995 tot 2009 raadslid van die Mangaung-plaaslike munisipaliteit.

Vanaf 2001 tot 2004 was hy raadslid van Bloem-Water en voorsitter van die finansiële- en ouditkomitee. Vanaf 2000 tot 2008 was hy ook lid van die raad van trustees van Federated Timbers se aftreefonds.

Mnr. Coetzee was sedert 2009 'n DA-parlementslid en dien op die gesamentlike staande komitee vir intelligensie. 

 

19. Mnr. JG (Hannes) Heyman

Mnr. Heyman het 44 jaar se politieke ondervinding op sy kerfstok.

Hy is ’n kundige in die finansiële wêreld met 55 jaar se ondervinding en is die afgelope tien jaar ’n suksesvolle sakeman in Polokwane (Pietersburg).

 

20. Prof. E (Elizabeth) Snyman-van Deventer

Prof. Snyman-Van Deventer is sedert 1994 lid van die Vryheidsfront Plus en het die party al in verskeie hoedanighede gedien.

Sy was onder meer lid van die Vrystaatse Jeugkommissie en is sedert 2006 'n raadslid van die Mangaung-metroraad.

Prof. Snyman-Van Deventer is 'n toegelate advokaat en het haar doktorsgraad in die regte in 2001 behaal. Sy het ook twee meestersgrade in die regte. 

 

21. Mnr. Heinrich (Hein) Marx

Mnr. Marx matrikuleer aan die Hoërskool President in Goodwood. Hy is van 1999 tot 2011 projekbestuurder en sake-onderhandelaar by Union Matex (GMBH).

Vanaf 2012 is hy besturende direkteur van Daedalus Aviation Africa en van 1999 tot 2000 voorsitter van die Federale Alliansie in die Suid-Kaap.

 

22. Mnr. JF Schutte

Mnr. Schutte is 'n lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese. Hy het 'n hoër diploma in arbitrasie en is ook 'n professionele tegnoloog.

Hy is die eienaar van sy eie ingenieursfirma en tree op as tegniese adviseur vir Noordwes se departement van openbare werke.

 

23. Mnr. HC (Herman) Crouse

Mnr. Crouse matrikuleer by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en behaal daarna die kwalifikasie NQF6 (finansiële diploma) by UNISA. 

Hy werk vanaf 2001 tot 2006 by Liberty en is tans in die organisasiekantoor van die Vryheidsfront Plus in die Wes-Kaap betrokke.

 

24. Me. AC (Carien) Nefdt

Me. Nefdt matrikuleer aan die Oranje Meisieskool in Bloemfontein waarna sy die graad B Soc. SC aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

Sy het daarna ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse Weermag gevolg waar sy vir twaalf jaar lid van die Staande Mag was en onder meer as skakelbeampte gewerk het. Sy het vier jaar lank grensdiens op Oshakati verrig en met die rang van majoor uit die diens getree.

Me. Nefdt is die afgelope 21 jaar betrokke by die Vryheidsfront Plus, was 'n VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad en praat Sotho vlot. 

 

25. Mnr. JM (Jan) van Niekerk

Mnr. Van Niekerk is die leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat. In 2010 is hy verkies tot lid van die Vrystaatse Wetgewer en het hy ook as die voorsitter van die portefeuljekomitee vir landbou gedien. Hy dien ook as 'n lid van die party se federale dagbestuur.

Hy was stigterslid van die Vryheidsfront Plus op die UV-kampus. Onder sy leiding het hierdie studente-organisasie twee keer die studenteraadsverkiesings gewen. In 2006 het hy heeltyds vir die VF Plus begin werk.