Verkiesing 2014: Minderhede en koalisies

2013-11-15
Dr Pieter Mulder

In die parlement maak debat tans plek vir onverantwoordelike propagandastellings. Kospakkies is in Potchefstroom en ander plekke uitgedeel. Enkele politieke plakkate het die afgelope week teen pale verskyn. Alles tekens dat daar ’n verkiesing op pad is. Dit beteken dat kiesers sal moet begin besluit wat hulle in volgende jaar se algemene verkiesing gaan doen.

Ek glo, soos baie kiesers, dat die “nuwe Suid-Afrika” van 1994 misluk het en ’n “ou Suid-Afrika” geword het. Drastiese verandering is nodig. Die Suid-Afrika wat in 1994 ontstaan het, het muf geraak vanweë regstellende aksie, werksverliese weens rassetransformasie, marginalisering van minderhede, swak dienslewering, swak bestuur, onbekwaamheid, kaderontplooiing, nepotisme, politieke aanstellings, mags- beheptheid, magsvergrype, korrupsie, bedrog, selfverryking, toesmeerdery, onbevoegdheid, misdaad, populisme en ideologiese beheptheid. Almal in Suid-Afrika, behalwe die ANC lede wat daardeur bevoordeel is, soek ’n land en ’n toekoms sonder hierdie kenmerke.

Pres. Zuma en die ANC sê dit gaan goed in Suid-Afrika. Die VF Plus en ander opposisiepartye sê dit gaan sleg in Suid-Afrika. Verskillende persepsies of net verskillende propaganda?

Die geskiedenis leer dat die party en individue wat die naaste aan die regte feite en waarheid is, die regte besluite neem en op die langtermyn reg bewys word.

Wat is die feite van Suid-Afrika? Wat is die waarheid van Suid-Afrika?

Die waarheid is dat Suid-Afrika ’n bevolking het van meer as 50 miljoen individue. Die grondwet gebruik dit as sy hoof-uitgangspunt.

Maar die waarheid is ook dat ons ’n baie diverse land is. ’n Land met verskillende tale, kulture, godsdienste, geskiedenisbeskouings en minderhede wat deur die verloop van die geskiedenis saam in Suider-Afrika geëindig het. Die grondwet onderspeel hierdie waarheid.

Nog ’n waarheid is dat ons oor meer as 360 jaar gewoond geraak het daaraan om ekonomies ineengestrengel te wees en van mekaar afhanklik te wees. Dat mense glo dat daar in hierdie groot land ‘n plekkie vir ons almal onder die son moet kan wees.

Tans het ons ‘n tirannie van die meerderheid sonder ‘n sinvolle erkenning van die stem van minderhede. Die bestaan van ‘n meerderheid is net een deel van die waarheid van Suid-Afrika. Binne die huidige model is alle minderhede en nie-ANC-gesindes gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf in ‘n oop demokrasie.

Die uitgangspunt en droom moet wees dat SA uit gelukkige en vooruitstrewende individue, maar ook uit tevrede gemeenskappe, minderhede en volke moet bestaan.

Om hierin te slaag benodig ons dringend aanpassings aan die staatkundige bestel waarin erkenning gegee word aan die diversiteit van Suid-Afrika as die ware boublokke van ‘n ware eenheid in diversiteit. ‘n Bestel gebou op respek vir mekaar, sonder diskriminasie en rassisme, met gelyke geleenthede, maar met erkenning van elkeen se eie, sowel as die gemeenskaplike. Dit is die volle waarheid van SA. Soos elders in die wêreld bewys, is hierdie benadering nie in konflik met ‘n grondwetlike- of ’n liberale demokrasie nie. Inteendeel, dit word as die nuutste en modernste staatkundige tendense beskryf.

Daarom moet federalisme, lokaliteit, subsidiariteit en selfbeskikking, soos dit internasionaal voorkom, noodsaaklike boustene van so ’n staatkundige model wees.

Ethiopië het in 1994 ’n nuwe federale grondwet aanvaar wat presies hierdie balans tussen die gemeenskaplike en ’n erkenning van die eie aanspreek. Spanje, België, Kanada is ook voorbeelde. Indië, Pakistan en Israel het die afgelope dekade spesiale ministeries vir minderhede ingestel as hulle poging om hierdie balans reg te kry. Ons in Suid-Afrika steek vas by ’n grondwet wat steeds meer verouder en agterbly by die nuutste staatkundige tendense.

In Suid-Afrika is steeds meer minderhede wat vervreem, afgeskeep en onderdruk voel. Só het byvoorbeeld ’n sterk afvaardiging van die Khoi-San en van hulle leiers die VF Plus se verkiesingsafskopvergadering bygewoon omdat ons baie dieselfde probleme ervaar en gesamentlik na oplossings soek. Die VF Plus het ook reeds goeie samesprekings met verskeie ander minderhede gehad. Ek voorspel ál groter samewerking tussen hierdie minderhede. Die politieke pendulum in Suid-Afrika begin wegswaai van die grondwetlike oorbeklemtoning dat die land slegs uit individue bestaan. Soos meer minderhede na vore kom, maak dit ’n meerderheid van minderhede ’n moontlikheid.

Op partypolitieke vlak is verandering net so nodig. Die doel moet wees om die ANC onder 50% te kry. Dit kan net bereik word deur werklike samewerking tussen opposisiepartye. By die vorige algemene verkiesing het die ANC 66% behaal. ’n Ontleding wys dat slegs 50% van die geregistreerde kiesers en 38% van die Suid-Afrikaners ouer as 18 jaar vir die ANC gestem het. As meer kiesers gemonster kan word om te stem, kan dit ’n totale nuwe prentjie skep.

Waarom ’n koalisie van partye? Kan alle opposisiepartye nie maar by die DA aansluit en só wen nie?

Omdat een party soos die DA nooit alleen die ANC sal verslaan nie.

Hoe goed is lesers se geheue oor die vorige verkiesingsuitslae (in 2009)?

Naas die Wes Kaap waar die DA regeer, in hoeveel van die ander agt provinsies is die DA die amptelike opposisie?

Twee. In ses van die nege Suid-Afrikaanse provinsies is ’n ander party as die DA die amptelike opposisie.

Hoe naby was die DA aan ’n oorwinning in van die ander provinsies in die vorige (2009) verkiesing? In geen ander provinsie kon die DA meer as 22% kry nie. In al agt ander provinsies het die ANC tussen 61% en 86% gekry. Hier is die 2009 provinsiale uitslae tussen die ANC en die DA: Oos-Kaap: ANC 69%, DA 10%; Vrystaat: ANC 71%, DA 12%; Gauteng: ANC 64%, DA 22%; KwaZulu-Natal: ANC 63%, DA 9%; Limpopo: ANC 85%, DA 3%; Mpumalanga: ANC 86%, DA 7%; Noordwes: ANC 73%, DA 8%; Noord-Kaap: ANC 61%, DA 13% en dan die Wes-Kaap: DA 51%, ANC 32%. In hierdie uitslae lyk die DA, met sy 16% algemene steun in die vorige verkiesing, nie na ’n party wat enige oomblik die ANC gaan verslaan en die land oorneem nie.

In die 2009-verkiesing het die ander opposisiepartye saam meer stemme as die DA gekry en daarom ook meer opposisiesetels in die parlement. Daarom dat die VF Plus sy steun vir ’n koalisie van opposisiepartye uitspreek.

Ek het onlangs saam met dr. Mangosuthu Buthelezi opgetree by ’n vergadering in KZN. Die meerderheid van die gehoor was fanatiese IVP-ondersteuners. By die vorige verkiesing het die IVP nog meer as 800 000 stemme gekry. Om die ANC te wen, kan daardie stemme nie sommer net so weggegooi word nie. Die meerderheid van daardie stemme kom uit plattelandse KZN en sal nooit vir Helen Zille en die DA stem nie.

By ’n onlangse vergadering in Pretoria het die VF Plus-ondersteuners hulle ten sterkste uitgespreek teen die DA. Hulle redes: Omdat die DA ná 20 jaar steeds regstellende aksie, swart bemagtiging en die huidige grondhervormingsbeleid steun. As die VF Plus tot niet gaan, sal hierdie ondersteuners eerder buite stemming bly as om vir die DA te stem.

Daarom die VF Plus-voorstel op twee vlakke:

Eerstens, laat elke opposisieparty die maksimum stemme uit sy nismark monster. Dit beteken dat elke kieser kan stem vir die party wie se waardes die naaste aan sy eie waardes is. Daarna vorm hierdie partye ’n koalisie. ’n Koalisie van sulke partye, wat elk hulle identiteit behou, gaan sterker wees as wat die DA ooit sal kan word. In plaas van ’n debat oor hoe die DA al die ander opposisiepartye kan vernietig, eerder ’n positiewe debat oor hierdie VF Plus-plan en samewerking.

Tweedens: Die ontwaking van al meer minderhede wat elk aandring om dit wat vir hulle belangrik is, op hulle eie manier te mag uitlewe. Uiteindelik ontwikkel hierdie ontwaking tot ’n meerderheid van minderhede.

Ons glo dat op hierdie wyse die mislukte en muwwe huidige Suid-Afrika verander kan word. Dan eindig ons met ’n moderne stelsel, in lyn met die nuutste internasionale verwikkelinge, wat hoop gee vir almal.