Steun aan VF Plus se veldtog oor plaasmoorde verwelkom

2017-03-17
Dr Pieter Groenewald

Die Joodse Raad van Afgevaardigdes het hom in ‘n verklaring sterk uitgespreek teen plaasmoorde en -aanvalle en sodoende sy stem gevoeg by dié van die VF Plus se veldtog teen plaasmoorde, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Die verklaring is uitgereik ná die debat oor plaasmoorde wat Dinsdag (vandeesweek) op versoek van die VF Plus in die parlement plaasgevind het.

In die verklaring word onder meer gesê mense wat in landelike gebiede woon is geregtig daarop om dieselfde beskerming van die polisie te geniet as mense in dorpe en stede.

Die raad doen ook ‘n beroep op die regering om alles moontlik te doen om daadwerklike stappe te neem om die probleem te behandel, en om toe te sien dat beter opleiding van polisielede deel hiervan moet wees, en dat hulle beter toegerus moet word om hul werk behoorlik te doen.

Dr. Groenewald sê dit is verblydend om te sien dat ander gemeenskappe ook die probleem rondom plaasmoorde raaksien en die VF Plus se poging steun om druk op die regering te plaas om op te tree.

“Hoe groter die stem van protes word, hoe meer sal die druk teen die regering oplaai om op te tree. Die VF Plus verwelkom hierdie steun vanuit die geledere van Suid-Afrika se Joodse gemeenskap,” sê dr. Groenewald.

 


Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403