Speaker moet nou wys waar haar prioriteite lê met geheime stem

2017-06-22
Dr Pieter Groenewald

Die speaker van die parlement, Baleka Mbete, het in die verlede keer op keer gewys haar eerste prioriteit lê by die ANC en die VF Plus het daarom nie veel hoop dat sy wel ʼn geheime stemming sal toelaat om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê dit is nogtans insiggewend dat hoofregter Mogoeng Mogoeng belangrikte rigting aan Mbete gegee het oor haar verpligtinge deur te sê sy moet toesien dat die belange van die ANC ‘gebalanseer’ moet word met die belange van die kiesers.

“Dit is ook belangrik dat parlementslede van die ANC kennis neem van die hoofregter se aanbeveling dat hulle trou gesweer het aan die Grondwet en hul amp, en nie aan die ANC nie en dat hulle daarom streng volgens hul gewete moet stem, ongeag of dit ʼn oop of geheime stemming is.

“Regter Mogoeng het daarop gewys dat ʼn algemene verkiesing die sterkste wapen is wat die publiek het om die regering tot verantwoording te roep.

“Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, asook die hoofsweep van die ANC, Jackson Mtembu, het na die uitspraak gesê hulle gee nie om dat ʼn geheime stemming plaasvind nie en dat die ANC se lede nie die mosie sal steun nie.

“Indien hulle so seker is van hul saak, moet die geheime stemming toegelaat word sodat Mantashe en Mtembu se uitlatings getoets kan word.

“Indien die speaker en ANC-parlementslede soos telkens tevore weer sonder eer of gewete gaan optree om die president te beskerm, wil die VF Plus sy hoop uitspreek dat die publiek die hoofregter se woorde ter harte sal neem en die korrupte ANC-regering by die stembus sal straf,” sê dr. Groenewald.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403