Repliek op pres. Zuma se Staatsrede 2014

2014-06-19
Dr Pieter Mulder

Speaker,

Ek wil begin met die storie van die hoof uitvoerende beampte van ‘n groot organisasie wat afgetree het. Hy het aan sy opvolger drie koeverte oorhandig.

“As jy in die toekoms ‘n krisis kry, maak die eerste koevert oop vir advies,” het hy aan die opvolger gesê.

Na ’n jaar was daar ’n krisis. Die nuwe hoof het die eerste koevert oopgemaak. Binne was geskryf: “Blameer dit op jou voorganger.” Hy het dit gedoen. Dit het gewerk en hy het die krisis oorleef.

’n Paar maande later was daar ’n tweede krisis. Hy het toe die tweede koevert oopgemaak. Binne was geskryf: “Reorganiseer” Hy reorganiseer toe die organisasie en oorleef weer ’n keer.

Met die derde krisis maak hy die derde koevert oop. Binne was geskryf: “Berei drie koeverte voor vir jou opvolger.”

Die huidige ekonomiese krisis is nie die tweede of derde krisis van die ANC-regering nie maar die honderdste een. Hulle het reeds hul voorgangers geblameer, hulle het reeds die regering meer as een keer gereorganiseer. Hulle moes lankal drie koeverte voorberei het.

Onthou agbare lede die Fitch-kredietgraderings se afgradering van Suid-Afrika in Januarie 2013? In die twee weke na die afgradering het buitelanders R3.2 miljard se Suid-Afrikaanse effekte verkoop. Buitelandse beleggers het in daardie maand alleen van R2.2 miljard Suid-Afrikaanse aandele ontslae geraak. Dit het ’n baie negatiewe invloed op ons ekonomie gehad en talle nuwe werkgeleenthede is verloor.

Dit is nog te vroeg om te bereken wat die effek van die onlangse afgradering gaan wees maar vir die regering kan dit nie “business as usual’ wees nie.

Elke dag op pad na die parlement ry ek verby mense wat op straathoeke sit en met hul oë my om werk smeek. Sterk en gesonde jong mans en vroue, met wanhoop en uitsigloosheid in hul oë. Hulle is vaders en moeders wat hul families moet onderhou. In hul eie oë laat hulle-hul familie in die steek.

Speaker, ons kan hierdie probleme oplos en werk skep. As ons daarin slaag sal meeste ander probleme van Suid-Afrika maklik wees om op te los. Waardigheid en selfrespek sal dan na hierdie mans en vroue terugkeer.

In die staatsrede is geen nuwe of oorspronklike voorstelle deur die agbare president gemaak oor hoe die ekonomiese groeikoers verbeter kan word om werk te skep nie.

Behuising en beter leeftoestande vir mynwerkers is voorgestel om ’n herhaling van die mynstakings te voorkom. Dit is belangrik maar dit spreek nie die kernprobleme aan nie. Niks verhinder dat ons more ’n soortgelyke staking in die goudmynbedryf kry nie. ‘n Voorstel in die staatsrede oor hoe die arbeidswetgewing gewysig kan word, sou positief gewees het. Verduidelik aan my waarom die arbeidswette nie so gewysig kan word dat vakbondlede ’n geheime stemming voor ‘n staking moet hou nie? Net dit alleen kan al ’n verskil maak.

Hierdie is agbare president Zuma se laaste termyn. Ek het vyf presidente in hierdie raad sien kom en gaan. In hul laaste termyn bekommer elke president hom oor sy nalatenskap. Dit is normaal.

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, sê die president gaan hierdie termyn klem lê op ekonomiese vryheid en die grondkwessie. Agbare president, u maak ’n groot fout as u dink u kan in die volgende paar jaar sukses hiermee behaal as u nalatenskap. U stel uself op om te misluk.

In 1948, voor ek gebore is, kom die Afrikaners aan bewind in Suid-Afrika. Die 1948-verkiesing het nie oor swart teen wit gegaan nie, maar was ’n Afrikaner-oorwinning oor ’n Engelse- en spesifiek ’n Britsgesinde benadering. As ’n jongman het ek ure met my pa geargumenteer dat die Afrikaner die politieke mag het, maar nie die ekonomiese mag nie. Dat ons bevry moet word van die Oppenheimers se ekonomiese houvas. Net soos ’n sekere jong lid gister hier geargumenteer het. Die werklikheid is dat die Afrikaner nooit die ekonomiese mag bekom het nie. Ons kon eie instellings vestig soos Volkskas en Sanlam, maar kon nie beheer van die ekonomie kry sonder om alles te vernietig nie. As u dit as doelwit stel, stel u uself op om te misluk.

Wat kan slaag en u nalatenskap kan word, is die suksesvolle vestiging van nuwe infrastruktuur. Met minder staatsinmenging en nuwe infrastruktuur sal die privaatsektor die groei en werksgeleenthede skep wat ons benodig. Daarom word die infrastruktuur klem in die staatsrede verwelkom hoewel die VF Plus bekommerd is dat die regering nie die kapasiteit het om dit alles deur te voer nie.

Van die 400 lede wat in 1994 tot hierdie raad verkies is, is ons nog net 12 lede oor in hierdie raad.

Dit is goed en sleg.

Goed – omdat nuwe lede nuwe idees bring.

Sleg – omdat ons ervaring en kontinuïteit nodig het.

Kom ek gee ‘n voorbeeld: Gister is hier snedig oor Afrikaans as taal en oor witmense gepraat. Toe ons in 1994 hier begin het, was hier slegs Engels en Afrikaans met geen vertaaldiens nie.

Watter party het geveg dat al elf tale, soos in die Grondwet, in hierdie raad gepraat kan word? Die Vryheidsfront Plus. Gaan lees dit in Hansard.

Hoekom? Omdat ons weet dat jou waardigheid herstel word as jou taal erkenning kry. (Dit het amper tien jaar geneem voor ons geslaag het.)

Ek aanvaar die agbare lid wat so teen Afrikaans uitgevaar het, is ook bewus daarvan dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie.

Hy moet hom eerder bekommer oor die Zoeloe- en Tswanasprekende kinders in Engelse privaatskole wat nie meer Zoeloe of Tswana kan praat nie of skaam is om dit te praat. Kom ons debatteer daaroor of oor die ANC-Vryheidsmanifes wat sê:

In die derde afdeling “All people shall have equal rights to use their own language and to develop their own folk culture and customs;”

En ook oor wat bedoel word met: “South Africa belongs to all who live in it.