Planne sonder politieke wil sal nie help om plaaslike regering te verbeter nie

2018-05-16
Die Redaksie

"Programme met welluidende name en uitsprake oor vordering en sukses sal niks help om die waarheid te verbloem dat Suid-Afrika se munisipaliteite in ʼn diepgaande krisis is nie," het Wouter Wessels, VF Plus parlementêre woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake gesê.

Hy het Dinsdag tydens dié departement se begrtongsdebat gesê die haglike toestand van munisipaliteite is ongekend in die land se onlangse geskiedenis en die meeste munisipaliteite is onvolhoubaar.

"In die laaste paar jaar is baie gewag gemaak daarvan om terug te keer na die basiese beginsels van dienslewering (“back to basics”). In die proses het die onderskeie departemente baie geld bestee aan programme om dit te rugsteun.

"Daar is egter min of geen koördinasie tussen hierdie ondersteuningsprogramme nie. Dit dra geen vrugte nie en dit is verstommend om te hoor die regering is trots op die vooruitgang wat op dié gebied gemaak word. Dit wil voorkom asof die minister (Zweli Mkhize) en die voorsitter van die portefeuljekomitee (Richard Mdakane) nooit munisipaliteite in landelike gebiede besoek en die werklike daaglikse verval sien nie.

"Die departement se oplossing oor die laaste jare was om munisipaliteite wat sukkel te laat saamsmelt met ander waar dit beter gaan. Dit help weinig en lei net daartoe dat munisipaliteite al hoe groter en armer word.

"Onlangse navorsing van die finansiële en fiskale kommissie het bevind dat hierdie samesmelting groot druk op albei munisipaliteite plaas en geen noemenswaardige verbetering in dienslewering meebring nie.

"Om hul finansiële situasie te verbeter verhoog munisipaliteite bloot hul tariewe. Die negatiewe effek hiervan is dat die betalende inwoners al hoe minder word. Mense is nie meer bereid om net te betaal sonder om dienste te kry nie. Die gans wat die goue eiers lê, kan dit net tot op ʼn punt doen.

"Ondersteuningsprogramme werk nie en daar sal vernuwend gedink moet word rakende plaaslike regering. Nieteenstaande die beste wetgewing, misluk beheermeganismes weens onbevoegde amptenare, ʼn gebrek aan politieke wil en endemiese korrupsie.

"Die regering moet ophou om homself op die skouer te klop oor sy gewaande vooruitgang op dié gebied.

"Die realiteit is daaglikse betogings oor ʼn gebrek aan dienslewering regoor die land. Die geld wat verlore gaan weens korrupsie en diefstal op plaaslike regeringsvlak is veel erger as met staatskaping. Die land se hulpbronne is nie onbepaald hierteen bestand nie," het Wessels gesê.