Plaasmoorde: Vryheidsfront Plus - Aksies en Suksesse

2017-10-30
Dr Pieter Groenewald

Vir diegene wat vra - wat doen die VF Plus oor plaasmoorde? Lees self want ons is sedert 1997 besig om iets daaromtrent te doen:

Plaasmoorde: Vryheidsfront Plus - Aksies en Suksesse

1. VF+ slaag om “Kill the Boer, ….” as haatspraak te verklaar.

Toe die ANC aanhou om die lied in die openbaar te sing, lê die VF+ in 2003 ’n klagte daaroor. Die klagte slaag en die SA Menseregtekommissie verklaar die gewraakte slagspreuk tot haatspraak. Hierdie uitspraak is daarna gebruik in alle verdere suksesvolle hofaansoeke en klagtes deur verskeie organisasies, tot vandag toe.

2. Doodstraf gevra asook ’n Kommissie van Ondersoek na Plaasmoorde.

Na toesprake en politieke druk stel die Polisie in 2001 ’n Kommissie van Ondersoek aan na Plaasmoorde en – aanvalle. Die VF+ was die enigste politieke party wat ’n voorlegging aan die Kommissie gemaak het. Ons voorlegging stel dit dat plaasmoorde polities is en dat die doodstraf teruggebring moet word.

3. VF+ lê klagte by Verenigde Nasies se internasionale menseregtekommissie.

Dr. Pieter Mulder het gesê dat dit belangrik is om die internasionale gemeenskap se aandag op die probleme van die Afrikaner te vestig. As ’n eerste stap het die VF+ ’n klag oor Afrikaners en boere se gebrek aan veiligheid in SA in 2001 by die hoë kommissaris van die Verenigde Nasies se internasionale menseregtekommissie (IMRK) gelê. So is dit onder die aandag van me. Mary Robinson gebring.

4. VF+ stel verslag op oor misdaad en plaasmoorde vir Mandela.

Na deurlopende VF+ klagtes vra president Mandela in 1997 vir genl. Viljoen, as leier van die VF, om ’n verslag op te stel oor misdaad en plaasmoorde. Viljoen betrek kol. Jan Breytenbach, oudbevelvoerder van 32Bataljon, by dié misdaadplan. Die deeglike plan maak voorsiening vir die vestiging van plattelandse strukture teen misdaad. Lede in die Polisie hou nie van die plan nie want hulle is bang vir ’n private leër.

5. VF+ bring plaasmoorde onder die aandag van VSA, Britse en Duitse leiers.

Tydens pres. George Bush se besoek aan Suid-Afrika oorhandig dr. Pieter Mulder, VF+ Leier, op 8 Julie 2003 'n video aan sy afvaardiging. Die video handel oor plaasmoorde in SA. Op soortgelyke wyse het dr. Mulder op 14 Julie 2003 persoonlik 'n kopie van 'n program van Carte Blanche oor plaasmoorde in Londen aan die buitelandse komitee van die Britse parlement oorhandig. Dieselfde video is op 23 Januarie 2004 aan mnr. Gerhard Schröder, Duitse kanselier, tydens sy besoek aan Suid-Afrika oorhandig. Mulder het gesê dit is deel van die VF+ se veldtog om internasionale aandag te vestig op die "onaanvaarbaar hoë voorkoms van gewelddadige plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika".

6. VF+ veg in Parlement met vrae en debatte oor plaasmoorde.

Die Vryheidsfront Plus het verbete geveg teen die afskaffing van die Kommando-stelsel en stel elke jaar ’n parlementêre vraag oor die statistiek van plaasmoorde. Die gevolg was dat die Polisie vanaf 2007 nie meer die statistiek wou gee nie. Deur vol te hou het die minister onderneem dat dit nou weer gegee sal word.

7. VF+ vestig openbare aandag op moorde en misdaad met sigbare protes-aksies.

Die VF+ neem gereeld deel aan optogte teen plaasmoorde. So het die party op 21 Maart 2004 sestig wit kruise in Pretoria geplant om die moordsyfer van 60 per dag tasbaar uit te beeld. By elke kruis was 'n paar skoene, om te toon dat iemand se plek leeg is. Op 27 April 2010 plant die VF+ kruise in Potchefstroom.

8. VF+ bring plaasmoorde onder aandag van UNPO en Europese Unie Parlement.

In Junie 2012 hou dr Pieter Mulder gesprekke en samesprekings met lede van die Europese Unie Parlement in Strasbourg oor plaasmoorde. Op 29 November 2012 stel hy ook ʼn mosie oor plaasmoorde voor by die 11de Kongres van die UNPO in Genève wat eenparig aanvaar word. Mulder is verkies op die presidensie van UNPO en op 22 November 2013 plaas hy plaasmoorde op die agenda waar dit bespreek word. In 2015 word ʼn mosie oor plaasmoorde weer by UNPO se jaarkongres in Brussel aanvaar. Klem word veral op die wreedheid van plaasmoorde geplaas. Die VF+ doen alles moontlik om die omvang en onaanvaarbaarheid van plaasmoorde onder die internasionale gemeenskap se aandag te bring.

9. Deurlopende Aksies

Die Vryheidsfront Plus is die enigste party in die parlement wat steeds met vrae aan die minister van Polisie plaasmoorde op die agenda plaas. Hoewel die minister aanvanklik onderneem het om statistiek weer na 2007 beskikbaar te stel, het hy nie sy woord gehou nie. Die VF+ vra sedert 2008 dat plaasmoorde as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar moet word. Die VF Plus is ook die enigste politieke party wat in 2015 ʼn verslag indien by die MRK (Menseregtekommissie) oor plaasmoorde.

10. Parlementêre Aksies

Die VF Plus dien sedert 1994 op die parlement se Polisiekomitee waar plaasmoorde, landelike beveiliging, reserviste, sektor polisiëring, plaasmoorde as prioriteitsmisdaad en vuurwapenwetgewing deurlopend op die agenda geplaas en bespreek word. Dit is algemeen bekend dat die VF Plus sterk ondersteunende standpunte inneem en veral op vuurwapenwetgewing, waar ander partye skepties daaroor is. In begrotingsposdebatte in die parlement plaas die VF Plus al hierdie genoemde aspekte sterk in die kollig. In die 2015 debat het die Minister van Polisie reeds onderneem om plaasmoorde te prioritiseer. Die VF Plus is die enigste party wat ook in 2015 ʼn volledige verslag aan die minister oorhandig het waarin gevra word dat plaasmoorde ʼn prioriteitsmisdaad verklaar moet word, dat spesialis eenhede ingestel word, dat landelike reserviste vermeerder moet word, dat plaasmoord statistiek bekend gemaak moet word en dat sektor polisiëring behoorlik ingestel moet word. Die VF Plus voer hierdie aksies deurlopend en met ywer in die parlement.

Die VF Plus het in 2016 in die Polisiekomitee in die parlement daarin geslaag dat die plaasmoord en -aanvalle statistiek weer bekend gemaak is saam met die ander misdaadstatistiek in SA.

In 2017 slaag die leier van die VF Plus om ʼn debat oor plaasmoorde vir die eerste keer in die NV te laat plaasvind as ʼn saak van dringende nasionale belang.


(Opgestel en versprei deur dr Pieter Groenewald (LP) namens die Vryheidsfront Plus, Posbus 583, Stilfontein, 2550, Tel 018-484 1086.)