Plaas moratorium op Eskom-verhogings totdat Gupta-verrotting behoorlik ondersoek is

2017-08-28
Adv Anton Alberts

Dit kan nie langer geduld word dat die Guptas Eskom soos hul eie spaza-winkel bedryf nie en ʼn moratorium moet op alle kragverhogings geplaas word totdat ʼn behoorlike strafregtelike ondersoek na die nes van korrupsie en bedrog by die kragvoorsiener gedoen is, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

In die jongste verwikkeling het Business Day vandag berig Eskom het teenoor hom erken hy was oneerlik toe betalings van altesame R1,6 miljard aan die Gupta-gekoppelde finansiële adviesfirma Trillian en wêreldwye konsultant McKinsey verdedig is as geregverdigde uitgawes.

Dit is gedoen deur te beweer dat die globale bestuurskonsultant, Oliver Wyman, 'n onafhanklike ondersoek na die betalings gedoen het en glo bevind het dat "alle betalings" geoorloof was vir werk wat behoorlik gelewer is. Dit blyk nou nie die geval te wees nie.

Adv. Alberts sê die publiek moet deeglik daarvan kennis neem dat hulle deur verhogings direk betaal om die Guptas en talle ander oneerlike Eskom-amptenare se sakke te vul.

“Hierdie sweer van korrupsie moet nou tot op die been oopgevlek word en die publiek moenie ʼn sent meer aan verhogingsbetaal totdat Eskom se huis nie behoorlik skoongemaak is nie,” sê adv. Alberts.