Optogte moet effektief wees, sê VF Plus

2017-04-11
Dr Pieter Groenewald

Openbare optogte teen die ANC met die doel om druk op pres. Jacob Zuma te plaas om te bedank, moet effektief wees en daarom steun die party enige optog met hierdie doelwit, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê hoewel die VF Plus nie beswaar het teen die voorgenome optog Woensdag (môre) deur opposisiepartye nie, moet daarteen gewaak word dat te veel optogte nie hul trefkrag verloor nie.

“Optogte wat spontaan vanuit die burgery ontstaan en plaasvind, dra ook veel meer gewig as wanneer politieke partye optogte reël aangesien die ANC aksies wat deur politieke partye gereël is, as blote politiekery sal beskou en dit so sal afmaak.

“Wanneer die burgery egter spontaan in opstand kom, sal die ANC-regering dit nie so maklik as onbenullig kan afmaak nie en sal hy kennis moet neem van die probleem.

“Die VF Plus doen daarom ook ʼn beroep op veral kerk- en geestelike leiers om leiding te neem waar die morele verval in die ANC sterk aangespreek moet word.

“Die VF Plus het die afgelope Vrydag om hierdie rede aan die SaveSA-optog deelgeneem, juis in solidariteit met die burgers van die land, en sal ook deelneem aan die optog wat SaveSA vir 18 April beplan wanneer die mosie van wantroue teen pres. Zuma in die parlement gedebatteer sal word.

“Die VF Plus sal hierdie mosie van wantroue beslis ondersteun,” sê dr. Groenewald.

 


Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403