Ontleding van nuwe aanstellings in kabinet van 2014

2014-05-26
Dr Pieter Mulder

Uit ’n ontleding van die nuwe aanstellings in die kabinet blyk dit dat president Zuma lojaliteit beloon en opponente uitgeskuif het. Verder het hy Cosatu en die SAKP probeer paai met heelwat aanstellings uit hul geledere ten einde die Drieparty-Alliansie se eenheid te behou. Die president het verder onderneem dat ’n meer radikale fase van sosio- ekonomiese transformasie nou gaan volgwat in reaksie op die EFF se ekonomiese kritiek is. Dit verklaar sekere aanstellings en voorspel niks goeds vir toekomstige ekonomiese groei en buitelandse beleggings nie.

Paul Mashatile, wat as minister en Gautengse leier soos Tokyo Sexwala teen pres. Zuma kant vir Mothlanthe gekies het, het sy pos verloor. So ook Max Sisulu wat as Speaker sy pos verloor het en nie ’n kabinetspos gekry het nie. Sisulu het op aandrang van onder andere die Vryheidsfront Plus die parlementêre ad hoc-komitee oor Nkandla kort voor die verkiesing aangestel. Buti Manamela, Luwellyn Landers en Faith Muthambi was die ANC-lede op daardie komitee wat gesorg het dat die komitee en so die Nkandla-verslag oor Zuma van die tafel gevee is. Al drie hierdie lede se lojaliteit is beloon met nuwe aanstellings.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se senior leierskap bestaan uit Blade Nzimande, sekretaris-generaal; Jeremy Cronin, adjunk-sekretaris-generaal; Senzeni Zokwana, nasionale voorsitter; Thulas Nxesi, adjunk-nasionale voorsitter en Buti Manamela, jeugleier.

Met die aanstelling van Zokwana as minister van landbou en Manamela as adjunk-minister is al hierdie senior SAKP-lede nou in prominente regeringsposisies. Lede van die SAKP se sentrale komitee wat ook ministers of adjunk-ministers is, is Rob Davis, Jeff Radebe en Godfrey Oliphant.

Naas die prominente SAKP-lede in die kabinet is Rob Davies as SAKP-lid minister van handel en nywerheid met minister Ebrahim Patel uit Cosatu as minister van ekonomiese sake. Dit alles bevestig ’n ideologiese skuif na links in die kabinet wat korreleer met die president se uitspraak dat ’n meer radikale fase van sosio- ekonomiese transformasie nou gaan volg. Teen hierdie agtergrond is dit ’n groot fout en stuur dit ’n totaal verkeerde sein aan die finansiële sektor en die buiteland om min. Pravin Gordhan by finansies weg te neem.

Die daarstelling van ’n uitgebreide propagandaministerie waaronder die staatsinligtingsdiens en die SABC val, voorspel niks goed vir die toekoms nie. Tydens hierdie verkiesing het ons reeds te doen gekry met die grootskaalse misbruik van staatsfondse en -geriewe ten einde die ANC as politieke party te bevorder. Met so ’n ministerie moet steeds minder skeiding tussen staat en die ANC as politieke party verwag word - veral ook omdat die SABC nou onder daardie departement val. Hierdie skuif sal sonder twyfel die onafhanklikheid van die SABC grootliks aantas.

Die nuwe minister van landbou is Senzeni Zokwana. Behalwe dat hy nasionale voorsitter van die SAKP is, was hy ook tot onlangs president van NUM. Die nuwe adjunk-minister van landbou is die omstrede Bheki Cele. Cele was sedert Julie 2009 polisiehoof, maar hy is in Oktober 2011 geskors, waarna hy in Junie 2012 afgedank is. Die jongste verslag van die Openbare Beskermer na Nkandla het onder meer voorlopig bevind dat Cele nie gekeer het dat geld onreëlmatig verkwis word met die bouwerk by Nkandla nie.

Die hoop word uitgespreek dat die nuwe ministers die belangrikheid van landbou vir voedselsekerheid en vir toekomstige politieke stabiliteit sal besef en nie die landbou en kommersiële boere soos in die verlede weer ’n ideologiese slaansak maak nie.

Die aanstellings van Cyril Ramaphosa as adjunk-president en Aaron Motsoaledi as minister van gesondheid word verwelkom. Met Ramaphosa se aanstelling as adjunk-president plaas president Zuma hom in lyn om die volgende president te word. Dit is positief omdat daar baie gerugte was dat die president met ’n tweede adjunk-president wil probeer voorkom dat Ramaphosa hom opvolg. Die reuse taak gaan op mnr. Ramaphosa se skouers rus om teen die weerstand van die SAKP- en Cosatu-lede in die kabinet die NOP te probeer deurvoer.

Dit is eienaardig dat daar so baie veranderinge in die kabinet aangebring is as in ag geneem word dat pres. Zuma reeds verskeie kere die kabinet die afgelope vyf jaar geskommel het juis om hom te pas. Die indruk is dat slegs vertrouelinge, lojaliste en napraters aangestel is met geen ruimte vir binne-kritiek en teëpraters nie. Waar daar in 2009 nog sprake was van versoening deur uit te reik na ander politieke partye, is daar by die 2014-kabinet geen sprake daarvan nie. Die swaar hand van Gwede Mantashe, lid van die SAKP se sentrale komitee en ANC sekretaris-generaal kan in baie van die aanstellings gesien word. Dit dui daarop dat pres. Zuma nie meer so alleen in beheer is as wat hy gehoop het nie.