Nkandla: VF Plus kla ministers by Openbare Beskermer aan

2016-02-05
Dr Pieter Mulder

Die Vryheidsfront Plus het die minister van polisie, Nathi Nhleko en die minister van openbare werke, Thulas Nxesi, by die Openbare Beskermer asook by die parlement se etiese komitee aangekla dat hulle die parlement mislei het.

Die verslag wat die ministers oor Nkandla aan die parlement voorgelê het, het bevind dat al die opgraderings by Nkandla veiligheidsopgraderings was. As president Zuma nou aanbied om ʼn sekere bedrag te betaal as ʼn skikkingsvoorstel, is die vraag waarvoor betaal die president? Betaal hy vir die brandpoel wat nou ʼn swembad is? Dan het die betrokke ministers die parlement mislei deur hulle verslag dat alle opgraderings veiligheidsopgraderings was.

Die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag (Wet 82 van 1998) skryf voor hoe die Openbare Beskermer oortredings van die etiese kode vir lede van die uitvoerende gesag moet ondersoek. Die wet spruit uit artikel 96 van die Grondwet wat die gedrag van kabinetslede bepaal.

Artikel 2.3(a) van die kode lui: “Members of the executive may not wilfully mislead the legislature to which they are accountable.”

Die VF Plus is van mening dat die Openbare Beskermer moet ondersoek of die ministers die parlement mislei het of nie.

Artikel 8.2 van die kode lui: “A member must assist the Public Protector in the performance of the Public Protector’s functions under the act.”

Omdat die ministers ook lede van die parlement is, gaan die VF Plus ook vra dat die parlement se etiese komitee hulle optrede in hierdie verband ondersoek.

Dit is interessant dat mnr. Zuma die Etiese Kode vir Lede van die Uitvoerende Gesag op 20 Julie 2000 geteken het as waarnemende president (Government Gazette: No 21399 Notice No 41 Regulation 6853. Date 20000728).

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670