Jongste plaasmoord wys publiek het rede om teen ANC-regering op te staan

2017-10-30
Dr Pieter Groenewald

Terwyl vandag se landswye Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde aan die gang is, het dit bekend geraak dat nog ʼn persoon in ʼn plaasaanval vermoor is by Vryheid (KwaZulu/Natal), en dat daar ook ʼn onbevestigde geval by Koster in Noordwes was, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê dit onderstreep die feit dat Suid-Afrikaners rede het om deur protesoptrede soos dié van vandag in opstand te kom teen ʼn regering wat sy mense in die steek gelaat het.

Hy sê die VF Plus verwelkom die protesaksie en beskou dit as ʼn barometer van wat werklik in die gemoedere van Suid Afrikaners aangaan.

Dr. Groenewald sê enige vorm van misdaad en geweld is vir die VF Plus onaanvaarbaar, maar die klem wat in hierdie geval op plaasmoorde gelê word, is belangrik aangesien landbou ʼn strategiese bedryf is wat die mense van Suid-Afrika van kos voorsien.

“Suid Afrikaners in die algemeen en veral die kwesbare landbou-gemeenskap het vandag ʼn streep in die sand getrek en met hierdie aksie ʼn duidelike boodskap aan die regering gestuur dat die situasie nie onbepaald kan voortduur nie.

“Die staat en sy wetstoepassingsagentskappe kom nie hul grondwetlike plig na om die veiligheid van landsburgers om te sien nie en het in hierdie verband sy kontrak met Suid Afrikaners verbreek.

“Alle beriggewing oor die reuse aksie dui daarop dat dit vreedsaam verloop. Dit is net jammer dat sommige politieke partye die aangeleentheid vir eie gewin probeer kaap aangesien hierdie werklik ʼn saak is waar alle Suid-Afrikaners moet hande vat, ongeag ras of politieke oortuigings.

“Dit is duidelik dat die tyd aangebreek het dat die ANC-regering vervang word met ʼn veelparty-regering in alle provinsies en op nasionale vlak, sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald het opnuut ʼn beroep op gemeenskappe en veral plaasgemeenskappe gedoen om hulself te beveilig deur by georganiseerde veiligheidsinisiatiewe betrokke te raak, en het sy meegevoel uitgespreek met die naasbestaandes van die jongste aanvalle.