Jackson Mthembu hou ANC-parlementslede gyselaar oor mosie van wantroue

2017-08-04
Dr Pieter Groenewald

Die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, se dreigement dat die ANC in duie sal stort indien sy lede ten gunste van die mosie van wantroue stem, hou daardeur die ANC-parlementslede gyselaar om hul posisies in die parlement te behou.

ʼn Regerende party wat toelaat dat sy leier gekaap word en daardeur die hele Suid-Afrika se ekonomie bedreig, wat werkloosheid skep en tot nadeel van armes is, verdien om in duie te stort en vervang te word met ʼn ander regering.

Die verskoning van Mthembu dui eintlik daarop dat die ANC in ʼn groot krisis is en daarom is dit juis nodig dat ʼn mosie van wantroue moet slaag.

Die VF Plus sal ten gunste van die mosie van wantroue stem en mobiliseer sy lede om deel te neem aan die optogte teen Zuma.