Hoe om te bind in die opposisieskrum

2014-02-19
Dr Corné Mulder

Die Burger - Forum: Hoe om te bind in die opposisieskrum

Woensdag 19 Februarie 2014

 

Anders as wat die DA voorgee, is daar nie net één manier om opposisiepartye te laat saamwerk nie, skryf Corné Mulder.

Dit is ’n mite en ’n leuen dat opposisie-eenheid in een enkele politieke party die beste manier is om die ANC te verslaan.

Beteken dit dat opposisiepartye nie moet saamwerk nie?

Die vraag is egter watter tipe samewerking die beste is om hierdie doel te bereik.

In die aanloop tot die 2014-verkiesing het ons reeds verskillende samewerkingsmodelle gesien: die DA-model teenoor die Kollektief vir Demokrasie se model.

Wat is die les uit die DA en Agang se mislukte troue?

Die les is dat wanneer opposisiepartye saamsmelt, nie alle ondersteuners outomaties hul leiers volg nie.

Die meeste Agang-ondersteuners het aangedui hulle wil teen die ANC stem maar nie vir die DA nie. Dit is juis die rede waarom hulle Agang gekies het.

Die samesmelting verswak dus nie die ANC nie, maar verminder die keuses van opposisiekiesers. Hierdie kiesers kan nou buite stemming bly, tot voordeel van die ANC.

Die rede waarom politieke partye in die wêreld saamsmelt, is om te voorkom dat opposisiestemme verdeel word. In ’n kiesafdelingstelsel gebeur dit.

In ons proporsionele kiesstelsel is dit onmoontlik om stemme te verdeel, want elke stem tel. Met ’n kwartpersent kiesersteun word iemand in Suid-Afrika tot die parlement verkies.

Die ANC is nie ’n enkele politieke party nie, maar ’n “broad church” waarin uiteenlopende standpunte kunsmatig saamgebind is. Kommuniste en kapitaliste; tradisionele leiers en ontstamde stedelinge bevind hulle in dieselfde party.

Die enigste gom wat hulle aan mekaar verbind, is die apartheidsverlede en die voordele wat die regering uitdeel. Dit is ’n gom wat nie onbepaald sal hou nie.

Daarom moet ’n sterk nierassige en breed gebaseerde politieke alternatief betyds geskep word. Die vraag is: Hoe?

Die DA se model is om met ander partye saam te smelt terwyl die DA sy identiteit behou. Met ander woorde: A plus B word nie ’n nuwe C nie, maar bly A. Party B verdwyn net van die toneel. DA plus Agang word dus nie Dagang nie, net soos OD plus DA nie ODDA geword het nie.

Die DA se insluk van partye maak dat baie stemme teen die ANC verlore gaan van OD- en Agang-lede wat nie daarmee saamstem nie. Meestal slaag hierdie metode slegs om die leiers te akkommodeer sonder dat die volgelinge in groot getalle die samesmelting steun. Die mislukking van die DA en Agang se samesmelting bewys dit.

’n Klein bietjie huiswerk of ’n kort gesprek deur dr. Mamphela Ramphele met enige van die bestaande ander opposisiepartye in die parlement sou gou aan die lig gebring het wat die DA se ware oogmerk met die aanbied van die presidentskandidatuur was. Die DA se strategie om ’n nierassige, breed gebaseerde politieke alternatief daar te stel, beteken prakties dat dit die DA is wat daardie alternatief word.

In die afgelope termyn van die parlement het ernstige en lang gesprekke oor opposisie-samewerking in die veelparty-opposisieforum plaasgevind.

Die DA het hier sy model aan al die ander opposisiepartye in die parlement voorgehou. Die voorlegging is in opdrag van die DA deur dr. Wilmot James as die DA se nasionale voorsitter gedoen. Soos met die OD sou politieke partye ook lidmaatskap van die DA kry. Wanneer ons by die 2014-verkiesing kom, hou daardie partye op met bestaan en is net die DA op die stembrief. Op hierdie wyse is die OD ingesluk en sal daar geen OD op die 2014-stembrief wees nie.

In die bespreking van dié model is dit eenparig deur die ander opposisiepartye teenwoordig – Cope, die IVP, die VF Plus, die UDM, die ACDP, die UCDP, die PAC en Azapo – verwerp. Dit is nie “samewerking” nie, maar “insluk”, was die reaksie.

Die onlangse DA-Agang-fiasko sou op presies hierdie model plaasvind. ’n Tegniese komitee sou kyk hoe Agang en die DA saamsmelt, asook hoe Ramphele as Agang-leier op die DA-lys vir die verkiesing geakkommodeer word. Die presidentskanditatuur is Ramphele aangebied om dit aantrekliker te maak. Dit sou egter ’n foefie wees wat Ramphele klaarblyklik nie ingesien het nie. In geen vorige verkiesing sedert 1994 het die DP of DA voor die verkiesing ’n “presidentskandidaat” aangekondig nie. Die leier van die party het die veldtog gevoer en was nommer een op die DA se lys.

Nadat die verkiesing afgehandel is, kom alle parlementslede byeen om ’n president te verkies. By hierdie geleentheid in 2009 het die DA Joe Seremane benoem. Met die ANC se 65% teenoor die DA se 16% het Seremane natuurlik teen Zuma verloor.

Indien Ramphele hiervoor sou geval het, sou sy ongeveer 30 minute van roem tydens die verkiesing in die parlement gehad het. Nadat pres. Jacob Zuma herkies is, sou sy ’n gewone DA-LP wees. Agang sou nou nie meer bestaan nie en sou ook nie aan die 2014-verkiesing deelneem nie. Dít is die DA-model.

Die vraag is hoe Ramphele die samewerking gesien het.

Sy het nie die ervaring gehad wat alle ander opposisiepartye reeds met die DA se werkwyse opgedoen het nie. Dit is gewis ook nie in detail aan haar uitgespel nie. Die tegniese komitee sou eers ná die aankondiging die detail uitwerk.

Ramphele se uitermatige eiesinnigheid en dalk misplaaste goeie selfbeeld het die toneel vir ’n katastrofe opgestel.

Sy was werklik onder die indruk dat sy so ’n formidabele leier en vrou is dat die DA sy volle gewig agter haar en Agang gaan ingooi – in so ’n mate dat die DA haar as sy kandidaat vir die presidentskap van Suid-Afrika aanwys.

In haar denke sou sy die leier van Agang bly. Agang en die DA neem afsonderlik maar samewerkend aan die verkiesing deel. Boonop steun die DA haar as presidentskandidaat.

Hierdie opsie was nie eens een sekonde in die DA se gedagtes nie.

Die VF Plus en Cope se model vir samewerking is beter.

Elke party behou sy waardes en identiteit en kry só maksimaal sy ondersteuners by die stembus om dan ná die verkiesing as ’n koalisie met ander partye teen die ANC saam te werk.

Sonder die VF Plus, die ACDP en ander partye se samewerking op hierdie wyse sou Helen Zille nooit in 2006 burgemeester van Kaapstad geword het nie.

Dít is ook die wyse waarop die Kollektief vir Demokrasie tussen Cope, die VF Plus, die IVP, die ACDP en die UCDP tot stand gekom het.

Ander opposisiepartye is steeds welkom om hulle by die kollektief aan te sluit en die 20 punte van ooreenkoms te onderteken.

Dit is uiters belangrik dat die maksimum getal opposisiekiesers in die komende verkiesing gaan stem. Ons kan nie bekostig dat mislukte samewerkingpogings daartoe lei dat meer opposisiekiesers van die stembus wegbly nie.

In die vorige algemene verkiesing het meer Suid-Afrikaners wat stemgeregtig is van die stembus weggebly as wat vir die ANC gestem het.

In 2009 het 43% van alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners nie gestem nie. Die gevolg was dat die ANC die verkiesing gewen het terwyl net 37% van alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners vir hom gestem het.

As net die helfte van die nie-stemmers teen die ANC gestem het, het die ANC verloor.