Het Afrikaans ’n toekoms by SA Universiteite?

2015-07-31
Dr Pieter Mulder

Oor Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Stellenbosch en by Elsenburg landboukollege was daar die afgelope tyd ernstige beswaar. Duidelik geld dubbele standaarde as na Engels as akademiese taal gekyk word.

Wat sal gebeur as die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus die volgende voorwaarde vir nuwe studente stel?

“Vir toelating moet alle nuwe aansoekers bewyse inhandig dat die student 'n sekere vlak van vaardigheid in Afrikaans bereik het.”

So ’n voorwaarde sal ’n politieke storm van die ANC en waarskynlik ook in die Afrikaanse media veroorsaak. Dit sal as “weerstand teen transformasie” beskryf word. ’n Baie ernstige sonde - net duskant apartheid.

Tog is die bewoording geneem van die taalvoorwaarde wat die Universiteit van Kaapstad tans stel - natuurlik net met Engels as taal. (Kyk www.uct.ac.za/apply/criteria/language/)

Geen storm of bohaai hieroor nie.

Waarom hierdie dubbele standaarde?

Omdat dit nie werklik oor transformasie gaan nie. Dit gaan oor ’n ANC-nasiebou-model wat nie voorsiening vir veeltaligheid maak nie. As Afrikaanssprekendes weet ons van die talle top Afrikaanse instellings wat reeds deur hierdie transformasiemodel vernietig is en geen dienste meer lewer nie.

Waarom ploeter ons voort op hierdie pad? Waarom mag Noordwes Universiteit nie so ’n voorwaarde stel nie?

“Omdat almal toegang tot die Universiteit moet hê en ’n Afrikaanse taalvereiste dit sal verhoed,” sal die politiek korrekte antwoord wees.

Maar wat dan van die bruin Afrikaanse matriekleerling wat nie toegang tot die Universiteit van Kaapstad kan kry nie omdat hy/sy nie aan hulle Engels taalvaardigheidsvoorwaarde voldoen nie? Waarom geld toeganklikheid nie ook hier nie?

’n Oplossing vir die toeganklikheidsprobleem was Wits en die ou Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) wat vier km vanaf mekaar is. Hier sou jy jou taal en universiteit kon kies. Na “transformasie” is Afrikaans by RAU, wat nou UJ is, tot niet en het ons twee Engelse universiteite langs mekaar!

Dieselfde kan van Stellenbosch gesê word. Sestig persent van die bevolking in die Wes-Kaap is Afrikaanssprekend. Bevolkingsgewys behoort twee van die drie universiteite in die Wes-Kaap dan Afrikaans te wees. Tans is die Universiteit van Kaapstad en Wes-Kaap Engels. Waarom dan voortdurende druk dat Stellenbosch, die derde universiteit, ook meer Engels moet word?

Nêrens in die wêreld kon ’n minderheidstaal teen ’n meerderheidstaal soos Engels bly staan sonder beskerming nie. In Kanada is die provinsie Quebec geskep om Frans teen Engels te beskerm. In tweetalige België is die Universiteit van Leuven in 1968 in twee gedeel. Hulle het twee onafhanklike kampusse naby mekaar geskep vir die Vlaamse en Franse taal en kultuur. Is dit nou apartheid of dalk net moderne minderheidsregte en moedertaalonderrig op universiteitsvlak?

Afrikaans het die trotse prestasie dat dit in ’n baie kort tyd tot ’n volwaardige akademiese en owerheidstaal ontwikkel het as die jongste taal van die Germaanse taalfamilie. Van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn. Tale kan en gaan dus tot niet.

Hoekom het hierdie tale tot niet gegaan?

As 'n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte kan so ’n taal tot niet wees.

’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor.

Die taalsosioloë onderskei breedweg vyf verskillende vlakke van taalgebruik:

1. 'n Taal moet by die huis gepraat word waar ouers dit aan hulle kinders as die volgende geslag oordra;

2. 'n Taal moet 'n literêre funksie hê deurdat dit in koerante, tydskrifte, boeke en in die media gebruik word;

3. 'n Taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê en moet op skool, kollege en universiteit as onderrigmedium gebruik kan word;

4. ’n Taal moet ekonomiese nut hê deurdat dit jou byvoorbeeld help om sake te doen of werk te kry;

5. 'n Taal moet 'n owerheidstaal wees wat deur die regering erken en gebruik word.

Wat (1) en (2) betref gaan dit nog goed met Afrikaans terwyl (3) ernstig bedreig word en (4) en (5) sedert 1994 baie agteruit gegaan het.

Is daar oplossings? Ja. Ons moet oor minderheidsregte begin debatteer en sekere persepsies oor Afrikaans help afbreek.

Minderheidsregte is nuwe denke en die moderne uitbreiding van menseregte. Byvoorbeeld: Artikel 30 van die Grondwet van Indië gee taal- en godsdiensminderhede die reg om eie onderwysinstellings in te stel sonder dat die staat finansies daarvan mag weerhou.

Dus - as Suid-Afrika 25 universiteite met 36 kampusse het, is dit meer as billik om een of twee vir Afrikaans te hou.

Enkele persepsies wat afgebreek moet word:

1. “Witmanstaal”

Die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie en hulle word deur Afrikaans bemagtig.

2. Die Afrikaanse debat is anti-Engels

Die huidige debat is pro-veeltaligheid en pro Afrikaans en nie anti-Engels nie. Engels is ’n universele taal wat ons toegang tot die wêreld gee. Ek het reeds voorgestel dat Engels daarom ’n verpligte vak op skool en op Universiteit behoort te wees.

3. Afrikaans is nie ’n inheemse taal nie

Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Dit is die derde grootste taal na isiZulu en isiXhosa in Suid-Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika kontinent vernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal wees nie?

4. Afrikaans moet as onderdrukkerstaal gestraf word

Engels was die taal waarin die wreedste slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis was in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie.

5. Afrikaans sluit uit en gee aanstoot

Afrikaans durf nie die turksvy in die Suid-Afrikaanse taalboord wees nie. Die manier waarop die “taalstryd” gevoer word, sal dit bepaal. Dit is in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans die stryd voortsit.

Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: "As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien 'n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.”