Erfenisbate van onskatbare waarde vir ewig verlore

2017-06-22
Dr. Elizabeth Snyman-van Deventer

Die Bloemfonteinse stadsaal was ʼn erfenisbate van onskatbare waarde en is nou vir ewig verlore, het dr. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metro gesê na stakende werkers van die metro, wat Bloemfontein, Botshabelo, Dewetsdorp, Wepener en Tweespruit insluit, gisteraand die gebou weens hul ontevredenheid met die ANC-beheerde munisipale administrasie aan die brand gesteek het.

Volgens Snyman-van Deventer is die stadsaal die eerste keer in 1883 gebou en weer in 1935 herbou. Die munisipale argief wat in die kelder van die stadsaal gehuisves was is ook na bewering verwoes. Behalwe vir die hout wat uit ʼn skeepswrak van die 1800’s herwin en in die boog van die verhoog gebruik is, was die besonderse erfenisbate ʼn nasionale gedenkwaardigheid en ʼn spesiale deel van Bloemfontein, die Vrystaat en Suid-Afrika se geskiedenis.

“Dit is werklik ʼn hartseer gevolg van ʼn onbevoegde ANC-administrasie en burgemeester se onvermoë om behoorlike bestuur toe te pas.”

Snyman-van Deventer het bevestig dat die VF Plus ʼn klag van kwaadwillige saakbeskadiging teen SAMWU, sowel as sy provinsiale sekretaris, Thabang Tseoua, aanhangig gemaak het.

“Die skuldiges moet aan die pen ry en SAMWU behoort vir die skade te betaal, maar hoe vervang mens iets wat meer as 100 jaar se geskiedenis bevat het?” het sy gevra.


Kontakbesonderhede: 082 305 1540