Eensydige of gebalanseerde geskiedenis? Reaksie op artikel oor Jan van Riebeeck.

2015-02-28
Dr Pieter Mulder

Jy kan nie geskiedenisfeite verander nie.

Dit is ʼn geskiedkundige feit dat Jan van Riebeeck 6 April 1652 in Tafelbaai geland het.

Dit is ʼn geskiedkundige feit dat Jan van Riebeeck Autshumao, wat hy Herrie die strandloper genoem het, en sy mense in Tafelbaai gekry het.

Waarom verskil ons dan so dikwels oor geskiedenis?

Omdat mense geskiedenisfeite verskillend interpreteer.

Ook omdat sommige mense die geskiedenis misbruik om ander mense te mobiliseer. So probeer hulle eie doelwitte bereik in die huidige tyd. Dan kies ons geskiedenisfeite wat ons pas en los ander ongemaklike feite weg. Daarmee skep ons geskiedenis-mites wat gedeeltelik waar is -- maar nie die geskiedenis volledig en gebalanseerd weergee nie. Die mites uit die geskiedenis wat ons so skep, vertel meer van die tyd waarin die mite ontstaan en van onsself as van die tyd waaroor dit gaan.

Dan Brown skryf in sy boek The Da Vinci Code (p343):

“History is always written by the winners. When two cultures clash, the loser is obliterated, and the winner writes the history books - books which glorify their own cause and disparage the conquered foe. As Napoleon once said: 'What is history, but a fable agreed upon?' By its very nature, history is always a one-sided account.”

Tans word die Suid-Afrikaanse geskiedenis weer uit nuwe hoeke ontleed en herskryf, veral deur die ANC wat hulself as die oorwinnaars na 1994 sien. Wat ek jammer vind is dat presies dieselfde foute as in die verlede gemaak word. In die nuwe weergawe van die geskiedenis is die Afrikaner en wittes altyd net sleg en Swart, Bruin, Khoisan en die ander altyd net goed en onskuldig. Mense en die geskiedenis is nooit so eenvoudig nie.

President Mandela het in die parlement met die tienjaar herdenking van sy inhuldiging (10 Mei 2004) gesê dat ʼn rigtinggewende beginsel vir hom: "has been that there are good men and women to be found in all groups and from all sectors of society, and that in an open and free society those South Africans will come together to jointly and co-operatively realise the common good".

Dit is ook my probleem met artikels soos “The Eight years of Jan van Riebeeck.” (http://www.thejournalist.org.za/spotlight/the-eight-years-of-jan-van-riebeeck)

Volgens hierdie artikel is Autshumao en sy volgelinge net goed en onskuldig met goeie bedoelings. Jan van Riebeeck en sy volgelinge is net sleg en gemeen met kwade bedoelings. Die geskiedenis van daardie tyd is ingewikkelder as dit met goeie en slegte mense aan albei kante.

As die geskiedenis gesien word uit die oogpunt van die KhoeKhoen of Khoi, soos Herrie se mense genoem is, is die artikelskrywer reg dat Van Riebeeck die Khoi se lewe ontwrig en verander het. Baie van hulle is later in strafekspedisies gedood en die groot Pokke epidemies van 1713, 1755 en 1767 het sommige stamme totaal uitgewis. Die Khoi en San is die binneland in forseer net soos hulle baie jare van te vore deur die Nguni stamme uit die huidige KwaZulu-Natal gebiede suid gedwing is. Net hulle rotstekeninge het in die Drakensberge oorgebly.

Maar hoe lyk die feite uit die Hollandse oogpunt gesien? Feite wat die skrywer weglaat?

Volgens die artikelskrywer het die plaaslike Khoi inwoners ten alle tye vriendelik (cordial) teenoor Europeërs opgetree. Die dagboeke van die vroeë seevaarders verskil daarvan.

In 1510 word Francisco d’Almeida, ʼn Portugese onderkoning, in Tafelbaai gedood na ʼn botsing met plaaslike inwoners. Die Portugese seevaarders het daarna opdrag gekry om landings aan die Suid-Afrikaanse kus te probeer vermy. Dit help verklaar waarom Suid-Afrika nie ʼn Portugese kolonie soos Angola en Mosambiek geword het nie.

Die Hollandse seevaarders skryf oor die vriendelikheid of vyandigheid van die plaaslike inwoners aan die Kaap dat hulle, hulle “onvoorspelbaar” vind. So is die Hollandse koopman Cornelis Specx en 14 van sy bemanningslede in 1638 in Tafelbaai vermoor toe hulle hul te ver van hul skepe gewaag het.

Met Jan van Riebeeck se koms in 1652 het hy spesifieke opdragte van die Here Sewentien gehad. Hy moes ʼn fort bou vir beveiliging maar het ook ʼn streng opdrag gekry om in vrede en in goeie verhouding met die plaaslike bevolking te lewe. Die doel was beslis nie om hulle lewe te ontwrig of hulle uit te wis soos die artikels dit stel nie. Sonder goeie verhoudinge met die Khoi was dit nie moontlik om met hulle handel te dryf nie ten einde genoeg beeste en skape te ruil om die vlote wat by die Kaap aan doen van vleis te voorsien.

Daarvoor was ʼn tolk vir kommunikasie nodig. Autshumao, (Herrie die strandloper), sy susterskind Krotoa (Eva) en Doman het as tolke opgetree. Krotoa (Eva) het deel van Van Riebeeck se familie geword en by hulle gewoon. Sy het ʼn Christen geword wat gedoop is en het met ʼn Hollander, Pieter van Meerhof getrou. Uit die huwelik is drie kinders gebore wat deel van die Hollandse gemeenskap geword het. Dit toon aan hoe die aanvanklike verdelings nie op ras gegrond was nie maar op geloof. Ras sou eers in die 18de eeu ʼn belangrike verdelingsfaktor word.

Van Riebeeck skryf oor hoe hy sukkel om sy opdragte uit te voer omdat die verskillende Khoi groepe onderling verdeeld was en mekaar gewantrou het. Hulle wou ook nie altyd handel dryf en vee ruil nie. Van die groepe of stamme waarmee hy gesukkel het, was die Goringhaiconas (die Strandlopers van Autshumao) en die Goringhaiquas (die Kaapmans onder Gogosoa). Hy skryf wel positief oor die Saldanha wat meer bereid was tot handeldryf.

Vir meer as ʼn jaar na 1652 gaan dit goed. Dan op 19 Oktober 1653 steel Autshumao en sy volgelinge byna al die vee van die Kompanjie. Hulle maak ook die veewagter David Jansz dood.

Van Riebeeck skryf hoe geskok hy is dat “die tolk Herrij, die doorgaens van onse taeffel als een groot vrunt alle dagen is gespijst met Hollandse cleederen gecleet, so iets kon doen. (Hoe die tolk Herrij, wat deurgaans as ʼn vriend gereeld aan ons tafels saam met ons geëet het en Hollandse klere gedra het, so iets kon doen.)

Later vind hulle uit hoe Doman, die ander tolk, die Goringhaiquas (die Kaapmans) aanraai om tydens reënweer nog vee te steel aangesien Van Riebeeck se mense dan met klam lonte en kruit nie hul pangewere kan gebruik nie.

In Julie 1659 word die veewagter Sijmon in’t Velt doodgesteek en ʼn verdere 68 beeste en 67 skape weggevoer. Hierop word besluit om die heining te bou waarna in die artikel verwys word. Konflik tussen die Hollanders en die plaaslike bevolking volg tot April 1660. Na gesprekke tussen die groepe word in Mei 1660 vrede met die leiers van die verskillende groepe gesluit en word die versoeningsbeleid hervat.

Die finale gebalanseerde geskiedenis van daardie tyd sal nog geskryf moet word. Dit sal iewers tussen die Khoi en Hollandse perspektiewe lê. Dit sal verduidelik hoe twee verskillende kultuur-benaderings aan die Kaap gebots het. Die Hollanders wat uit Europa kom waar individuele- en privaateiendomsreg van grond die gebruik is teenoor die Khoi wat geglo het die grond behoort aan almal om te gebruik. Die Khoi wat vee aanhou net vir eie gebruik teenoor die Hollanders wat handeldryf om wins te maak en om gereed te wees om groot Hollandse vlote van vleis te voorsien.

As uit vandag se perspektief daaroor geskryf word, moet die vraag gevra word of Suid-Afrika ʼn beter plek sou wees as Jan van Riebeeck nooit na die Kaap gekom het nie? Dit is tog vandag se debat. Sou die snelweë breër, die hospitale groter en die TV beter gewees het sonder Jan van Riebeeck en sy nakomelinge se bydrae?

Tans is Suid-Afrika ʼn ekonomiese reus in Afrika. Amper die helfte van alle geteerde paaie in Afrika kom in Suid-Afrika voor asook die grootste hospitale in die Suidelike halfrond met meer selfone in Suid-Afrika as wat daar volwasse inwoners is. Ook die nageslagte van Autshumao gebruik vandag hierdie hospitale, paaie, televisie en selfone.

Wat is die gevaar van geskiedenis mites wat vir hedendaagse mobilisering gebruik word? Een voorbeeld:

In Rwanda skep die Hutu-leiers geskiedenis mites om aan te toon dat die land se probleme deur die Tutsi’s en nie deur hulle veroorsaak is nie. Toe die probleme nie weggaan nie begin die gewone Hutus die Tutsi’s “kakkerlakke” noem en besluit op ʼn dag om van die “kakkerlakke” ontslae te raak. Tot ʼn miljoen Tutsi’s word in 100 dae vermoor.

Aan die begin van hierdie jaar praat president Zuma oor Suid-Afrika se geskiedenis. Waar kom Suid-Afrika se probleme vandaan? Die agb. President sê: “a man called Jan van Riebeek arrived here and that was the start of the trouble in this country.” Ek kan aantoon hoe die president verkeerd is deurdat hy die swart op swart oorloë of die swart en Khoi botsings voor 1652 verswyg. Die vraag is egter wat presies sê hy in gewone taal? Hy sê toe die witmense hier aankom, het die moeilikheid begin.

Met die herdenking van die ANC se 103de verjaarsdag vanjaar in die Kaapse stadion, verwys die prys- en gebedsvoorganger Ockert Lewies na mnr. Zuma se opmerkings oor Van Riebeeck. In sy pryssang sê hy aan die 40 000 mense in die stadion dat hy eers Jan van Riebeeck se bose gees moet uitdryf ten einde die stadion skoon te kry voordat die president kan praat. Terloops, Van Riebeeck is in Batavia dood en begrawe – nie in Kaapstad nie.

Wat verstaan die gewone ANC ondersteuner van die president en die pryssanger se opmerkings? Hy verstaan dat die wittes vir die probleme in die land verantwoordelik is. As jy dus van die wittes ontslae raak, dan is die probleme weg. Dryf die “kakkerlakke” uit, dan is die probleme weg. Dit is hoekom mites so gevaarlik is en nie net so gelaat kan word nie.

ʼn Ou Afrika gesegde lui dat solank as wat die leeus nie kan praat en hulle eie storievertellers aanstel nie, sal in die stories na die jag, die jagters altyd die beste daarvan afkom. Kom ons beywer ons vir gebalanseerde Suid-Afrikaanse geskiedskrywing deur die leeus en die jagters omdat ons die gevare van eensydige geskiedskrywing en mites besef.