Dit was VF Plus wat oorwinning behaal het vir Suid-Afrikaners in die buiteland om te kan stem in verkiesing

2014-01-16
Die Redaksie

In 2009 wen Vryheidsfront Plus in die Grondwethof die reg vir Suid-Afrikaners in die buiteland om te stem.

Op 19 September 2013 stem die Demokratiese Alliansie (DA) in die parlement teen hierdie wysigings aan die Stemwet. (Sien mediaverklaring).

Nou toer die DA die buiteland vol en werf skaamteloos stemme nadat hulle teen die wet gestem het en sodoende alle Suid-Afrikaners in die buiteland byna die geleentheid ontneem het om te stem.

Einde verlede jaar het die VF Plus 'n duur saak in die Pretoriase Hooggeregshof teen e-tol geveg. Geen ander party het hiertoe bygedra of ondersteun nie. Nou kaap veral die DA hierdie stryd teen e-tol terwyl sy amptelike beleid tolpaaie steun en die DA self 'n tolpad - Chapman's Peak in die Wes-Kaap - bedryf.

Oor sy steun aan rassistiese arbeidswette het die DA eers bokspronge begin maak nadat die VF Plus gehelp het om dit oop te vlek het. Die woorde oneties en opportunisties kan seker in hierdie geval beskrywend wees?

 

MEDIAVERKLARING (oor stemreg vir Suid-Afrikaners in buiteland)

ONDERWERP : VF Plus behaal historiese oorwinning in stryd om stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland te gee

UITGEREIK DEUR : Dr. Corné Mulder

HOEDANIGHEID : VF Plus-woordvoerder: Binnelandse Sake

DATUM : 19 September 2013

Die Vryheidsfront Plus verwelkom die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op die Kieswet ingevolge waarvan alle Suid-Afrikaanse burgers aanstaande jaar in die algemene verkiesings sal kan stem, sê dr. Corné Mulder, die Vryheidsfront Plus se hoofwoordvoerder oor binnelandse sake.

Die wetswysigings vandag was 'n opdrag van die Grondwethof aan die Parlement. Dit het gevolg nadat die VF Plus die kwessie dat Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland nie mag stem nie, suksesvol na die Grondwethof geneem het. Die Grondwethof het beslis dat die stemreg om praktiese redes net op nasionale vlak en nie op provinsiale vlak kan wees nie.

Die Demokratiese Alliansie het teen die wet gestem. Dr. Mulder het gesê hy is ‘verstom’ oor die DA se optrede aangesien dit mense in die buiteland aanstaande jaar hul stemreg kan ontneem. As die wet nie nou aanvaar word nie as gevolg van die DA se optrede of deur hofsake vertraag word, verval hierdie opsie vir alle Suid-Afrikaners in die buiteland.

Wysigings wat nou aan die Kieswet aangebring gaan word, sal Suid-Afrikaners in die buiteland toelaat om nuut as kiesers te registreer in die land waar hulle tans is. Dit was voorheen nie die geval nie.

Oor die DA se optrede het dr. Mulder gesê dié party besef al te goed dat mense in die buiteland nie stemreg op provinsiale vlak sal kry nie as gevolg van die grondwethof se uitspraak en praktiese oorwegings.

“Julle weet dit. Dit is opportunisties. Die DA speel hier om stemme te werf deur die indruk by die publiek te probeer skep dat hy vir hulle veg.

“Wees net een keer eerlik en erken die poging gaan nie slaag nie. Ek kan net hoop dat die DA hieroor tot sy sinne gaan kom,” het dr. Mulder gesê.

Die VF Plus wys deurlopend dat hy mense het wat deurdagte besluite neem en daadwerklik optree in belang van die hele Suid-Afrika en al sy inwoners. Met ‘n sterk mandaat kan die party werklik ‘n positiewe en wesenlike verskil maak aan die lewe van almal in die land.