Die sukses van ʼn demokrasie kom uit die hart

2017-03-15
Dr Corné Mulder

Wat ʼn demokrasie soos Suid-Afrika laat slaag of faal is nie die harde en rigiede voorskrifte en reëls vervat in die Grondwet en ander wette nie, maar dit wat in die harte en gedagtes van die mense van die land omgaan, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.


Dr. Mulder het vandag met die parlementêre debat oor Suid-Afrika se twintigste viering van sy Grondwet en menseregte aangehaal uit die boek ‘Africa in Search of Democracy’ van professor A.K. Busia van Ghana en gesê die riglyne in dié boek kan gerus in Suid-Afrika ter harte geneem word.

“Dié boodskap is dat dit die ongeskrewe reëls is wat ʼn sukses kan maak van ʼn demokrasie, en nie riglyne en voorskrifte nie.

“Hy skryf dat eerlikheid, integriteit, selfhandhawing en ʼn respek vir demokratiese prosesse die belangrikste is. Dit wat uit mense se hart kom. Ons het dit so nodig in Suid-Afrika,” het dr. Mulder gesê.

Hy het ook gesê die Vryheidsmanifes stel dit duidelik dat alle nasionale groeperinge regte en dieselfde status in staatsinstellings moet hê.

“Hierdie groepe is ʼn realiteit in Suid-Afrika wat nie weggewens kan word nie en dit is dalk deel van die probleem waarom daar tans nie sosiale harmonie in die land is nie, aldus dr. Mulder.
 
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403