Daar is ook goeie politici . . . (Artikel geskryf deur Douglas Gibson vir Beeld - 2 Junie 2017)

2017-07-28
Die Redaksie

Daar is ook goeie politici . . .

Deur Douglas Gibson 02 Junie 2017 19:21

Artikel in Beeld

Douglas Gibson, die voormalige DA-politikus en ook oudambassadeur in Thailand, onthul wie hy beskou as van die indrukwekkendste LP’s wat sedert die nuwe parlement in 1994 saam met hom gedien het.

In my tyd het die parlement sy aandeel aan lui niksdoeners, bedrieërs, magsvrate, boewe en swendelaars gehad, maar daar was ook baie goeie mense wat ’n aanwins vir Suid-Afrika was en toegewyd en getrou gedien het. Die goeie en die slegte was van alle partye afkomstig.

Ek het verkies om ’n kiesafdeling-LP te wees, maar het sedert die inwerkingstelling van die proporsionele verteenwoordigingstelsel in 1994 die “kiesafdeling” wat deur my party aan my toegewys is, probeer dien asof hulle my regstreeks verkies het. Ek het geen verskil in die gehalte van LP’s voor en ná daardie datum opgemerk nie.

Ons het nog altyd ’n verantwoordelike partystelsel gehad – selfs in die ou Suid-Afrika toe daar kiesafdelings was. In so ’n stelsel is dit ondenkbaar dat LP’s, behalwe moontlik wat kwessies van geloof of grondliggende beginsels betref, hul eie ding in die parlement sal doen en byvoorbeeld teen die leier van hul party sal stem.

In hierdie artikel bepaal ek my by mense wat van 1994 af saam met my in die parlement gedien het. Dit is dalk onregverdig om sommige uit te sonder en ander te ignoreer wat eweneens lof verdien, maar ek moet ook uitnemende nuwer LP’s uitlaat.

In daardie parlement van 1994 was sommige van die indrukwekkende name Kader Asmal, Tony Leon, Boy Geldenhuys, Joe Matthews, Frene Ginwala, ­Dene Smuts, Naledi Pandor, Corné Mulder en Colin Eglin.

Asmal, van die ANC, was mal oor die parlement en het danksy sy jare aan die Trinity College in Dublin ’n akademiese bewustheid gehad van wat ’n parlement kan en behoort te wees. Hy kon oor enigiets debatteer en oortuigend klink, al het hy geweet hy het nie ’n sterk saak nie.

Hy was baie lief vir ’n drankie en ’n sigaret by die parlementêre kroeg en kon ure lank onderhoudend gesels. Talle LP’s was baie geheg aan hom. Klein van gestalte, maar ’n groot spreker, is hy eens grappenderwys deur Tony Leon as ’n “huigelaar op stelte” beskryf.

Leon was self ’n wonderlike LP en sal onthou word vir sy enorme bydrae om aansien aan die opposisie te verleen. Sonder sy leierskap kon Suid-Afrika so maklik die pad na ’n eenpartystaat geloop het. Pres. Nelson Mandela het hom ’n kabinetspos aangebied. Vir die leier van die DP, ’n 1,7%-party wat skaars die amper-dood-ervaring van 1994 oorleef het, was dit baie aanloklik. Mandela het hom meegedeel hy kon enigiets in die kabinet sê, maar daar buite sou hy kabinetsbesluite moes steun. Tony het hom bedank, maar die aanbod van die hand gewys en gesê Suid-Afrika het ’n groter opposisie eerder as ’n groter regering nodig.

Deur sy persoonlike voorbeeld het ­Leon sy klein bende na veel groter dinge gelei, die leier van die opposisie geword en die tafel gedek vir vandag se DA, wat ’n wesentlike vooruitsig het om die leidende party te word in ’n koalisieregering wat die ANC in 2019 sal vervang.

Daar was toegewyde werkers onder die NP-LP’s, maar die een wat vir my uitstaan, is dr. Boy Geldenhuys. Hy was eers ’n dominee, toe ’n adjunkminister en uiteindelik ’n ambassadeur. Boy was die sout van die aarde. Met sy diep stem, ideaal vir openbare debatvoering, het hy sorgvuldig voorbereide en baie opregte toesprake afgesteek.

Tydens een van die oorlooptydperke moes ek hom nader met ’n aanbod om by die DA aan te sluit. Dit was teen daardie tyd duidelik klaarpraat met die NNP en sy antwoord was onvergeetlik: “Ek is ’n lojale mens en as die NNP-skip gaan sink, sal ek net saam moet sink.” Nie alle politici is opportuniste nie.

Wyle Joe Matthews, IVP-adjunkminister in die Mandela-regering, was ’n wonderlike parlementêre orator en het die Nasionale Vergadering uit die vuis, sonder aantekeninge, toegespreek. Dit is dikwels ’n teken van LP’s wat vooraf baie sorgvuldig voorberei.

Hy was nogal bejaard, of so het dit destyds vir my gelyk, maar het die parlement baie geniet.
Halfpad deur die eerste parlement se termyn het hy my geroep en gevra of ek ’n kopie van die bekendste boek oor Britse parlementêre prosedure het. Indien nie, sou hy sy tweede kopie vir my gee.
Hy het dit die volgende dag gedoen en die inskrywing daarin het gelui: “Aan Douglas Gibson, die beste parlementslid in die Nasionale Vergadering, met groot respek van Joe Matthews.” Dit is steeds een van my kleinode.

Dit kan dalk ongewoon wees om die naam van die speaker by die groot parlementêre persoonlikhede in te sluit, maar dr. Frene Ginwala verdien dit. Sy was vasbeslote dat elke LP van elke party die reg moet hê om gehoor te word. Ginwala se nalatenskap is dat haar basiese demokratiese waardes oorleef het, selfs ondanks die verlaagde standaard van die huidige speaker. Die prag van die proporsionele verteenwoordigingstelsel is dat dit in ’n komplekse land soos ons s’n toelaat dat die menings van enigeen wat sowat 40 000 stemme kan lok, ingestem word. Ginwala het seker gemaak daardie verteenwoordigers sou gehoor word.

Omdat sy menslik en van die ANC was, was haar prestasie nie perfek nie. Met die wapentransaksie het sy haarself in die steek gelaat deur die regering te beskerm toe sy nie moes nie, of só het sommige van ons gemeen. Oor die algemeen was daar groot waardering vir haar integriteit, intelligensie en diplomatieke vaardighede wat die opposisie betref. Sy sal onthou word as ’n Suid-Afrikaanse speaker met ’n navolgenswaardige voorbeeld en wat verering waardig is.

Wyle Dene Smuts was ongetwyfeld ’n wonderlike parlementslid. Sy het onophoudelik gewerk en die hoogste standaarde aan mense, die regering en die opposisie (met inbegrip van haar eie party) gestel. Sy het groot moed aan die dag gelê en was uitgeknip vir die taak van grondwetskrywing en deelname aan parlementêre komitees waar konsepwetsontwerpe ontleed en uitmekaargetrek is. Sy het haar argumente passievol gevoer en lywige wysigings voorgestel om wetsontwerpe te verbeter.
Ginwala se nalatenskap is dat haar basiese demokratiese waardes oorleef het.

Naledi Pandor is een van die mees begaafde LP’s. Sy het ’n pragtige, gemoduleerde stem en haar intelligensie blyk duidelik wanneer sy herhaaldelik haar meerdere redenaarsvaardighede ten toon stel. G’n wonder die ANC het haar oor die jare heen in belangrike debatte gebruik nie.

Dit is verrassend dat sy steeds in die Zuma-kabinet is. Iemand met haar integriteit moes teen dié tyd bedank en ’n voorbeeld aan ander gestel het. Dit is straks te maklik om die teendeel te regverdig en te probeer om “die geveg van binne te voer”.

Corné Mulder van die VF Plus het altyd as ’n uitstekende debatvoerder, ’n hoogs intelligente vraagsteller en ’n voortreflike parlementslid beïndruk.

Colin Eglin, voormalige opposisieleier, het die moeilike oorgang na ’n gewone LP gemaak. Hy het ’n leier wat 40 jaar jonger as hy was, getrou gedien en altyd versoeke van sy hoofsweep gerespekteer.
Colin se grootste bydrae tydens sy meer as 30 jaar in die parlement was sy kalm, beredeneerde, beginselvaste en sorgvuldig voorbereide bydraes tydens die skryf van die nuwe grondwet. Dit is op soveel maniere sy gedenkteken.

Daar is soveel ander merkwaardige parlementslede wat heimlik gekrenk sal voel dat hulle nie by my lys ingesluit is nie, maar min van hulle sal van my verskil dat diegene wat ek wel genoem het, mense is wat ’n indrukwekkende bydrae tot ons parlement gelewer het.