DA-raadslid van Limpopo sê waarom sy aansluit by die VF Plus

2015-09-01
Dr Pieter Mulder

ʼn DA-wyksraadslid van Mogalakwena in Limpopo het vanoggend uit die DA bedank en by die VF Plus aangesluit om beter te kan omsien na die “belange” van haar kiesers. Die raadslid, me. Marcelle Maritz, is ook 'n uitvoerende lid op die stadsraad van Mogalakwena.

Me. Maritz sê sy het by die VF Plus aangesluit omdat sy nog altyd ʼn toegewyde raadslid was, en omdat die nuwe rigting wat die DA ingeslaan het om die meerderheidstem na te jaag, veroorsaak het dat minderhede se kwessies nie meer aandag in die party geniet nie. Sy kon haar kiesafdeling daarom nie meer sinvol bedien nie.

Hier volg me. Maritz se verklaring oor haar besluit:

“Die DA dra nie meer die belange van hul tradisionele kiesers op die hart nie. Soos nou weer by Elsenburg blyk, neem dié party nie meer aksie ter beskerming van dit wat vir minderhede belangrik is nie, soos die beskerming van hul taal, geskiedenis of kultuurhistoriese erfstukke soos monumente.

“In teenstelling hiermee beywer die VF Plus hom aktief vir die beskerming van minderhede, insluitende die Khoisan en bruin gemeenskappe.

“Ek skaar my daarom nou by die VF Plus en sal voortaan met al my energie werk om die gemarginaliseerde minderheidsgemeenskappe en my eie mense in Potgietersrus te bedien,” sê me. Maritz in haar verklaring.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, sê dié party verwelkom me. Maritz in sy midde, en hy is bly dat sy in die eerste plek die belange van haar kiesers op die hart dra.

“Daar is ʼn besliste tendens van herskikking in die Suid-Afrikaanse politiek, en dit raak al meer duidelik dat koalisie-vorming toenemend ʼn haalbare opsie sal bied om na minderhede se regte om te sien,” sê dr. Mulder.

Navrae:
Dr. Pieter Mulder: 083 419 5403
Marcelle Maritz, wyksraadslid en uitvoerende lid van die Mogalakwena-munisipaliteit: Selnommer: 078 617 8682