DA-raadslid sê waarom sy aansluit by die VF Plus

2016-02-03
Dr Pieter Mulder

ʼn Gesoute DA-raadslid van Moqhaka (Kroonstad) in die Vrystaat het uit die DA bedank en die VF Plus as haar nuwe politieke tuiste gekies. Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, het haar vandag amptelik tydens ʼn mediakonferensie in Bloemfontein by die VF Plus welkom geheet. Dr. Albe Viljoen was vir 16 jaar van 2000 tot Januarie 2016 ʼn raadslid in die Moqhaka-munisipaliteit.

Dr. Viljoen het die eerste DA-tak in Kroonstad reeds in 1998 gestig en was voorheen die koukusleier van die DA in die stadsraad. Sy was tydens die huidige munisipale termyn ʼn proporsionele raadslid van Moqhaka-plaaslike munisipaliteit en Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit.

Dr. Mulder het tydens die mediakonferensie gesê dat dr. Viljoen die tweede DA-raadslid is wat die afgelope tyd bedank het en by die VF Plus aangesluit het.

“Dr. Viljoen se aansluiting by die VF Plus is duidend van ʼn groeiende tendens. Sy is een van baie DA-lede wat tans by die VF Plus aansluit. Ons kantore word oorval met lidmaatskap-aansoeke van voormalige DA-lede. So het daar byvoorbeeld verlede week lede van ʼn voormalige DA-tak in Edenville as VF Plus-tak by die party betrokke geraak. Vandag dien dus as ʼn voorbeeld van die huidige politieke atmosfeer,” het dr. Mulder gesê.

Alhoewel sy sedert 2000 ʼn toegewyde DA-raadslid was, sê dr. Viljoen sy het nou by die VF Plus aangesluit omdat die nuwe rigting wat die DA ingeslaan het, veroorsaak het dat hul nader aan die ANC in terme van beleid beweeg en dus nie meer aan minderhede se kwessies aandag gee nie. Sy kan haar nie met die DA se beleidstandpunte oor regstellende aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en kwotas vereenselwig nie. Sy kon ook nie meer haar gemeenskap sinvol dien nie en het daarom besluit om as raadslid van die DA te bedank.

Volgens dr. Viljoen is daar ʼn ernstige leierskapkrisis in die DA wat veral op plaaslike gebied onuithoudbaar word. Dit te same met ʼn totale beleidsverandering en ondeurdagte populistiese uitsprake deur DA-leiers het dr. Viljoen geen ander keuse gelaat as om ʼn ander politieke tuiste te soek nie.

Dr. Viljoen het die VF Plus as ʼn groeiende alternatief geïdentifiseer en sê dat die VF Plus haar waardes beter verteenwoordig en ʼn beter voertuig is om die belange van haar en haar gemeenskap te dien. Dr. Viljoen het alvorens haar bedanking nie aansoek gedoen om weer as DA-kandidaat beskikbaar te wees nie. Sy is wel bereid om haar as kandidaat vir die VF Plus vir die komende munisipale verkiesing beskikbaar te stel.

“Ons verwelkom dr. Viljoen in ons midde en is bly dat sy in die eerste plek die belange van haar gemeenskap op die hart dra. Daar is ʼn besliste tendens van herskikking in die Suid-Afrikaanse politiek en dit raak al meer duidelik dat koalisievorming toenemend ʼn haalbare opsie sal bied om na almal se gelyke regte om te sien,” sê dr. Mulder.

Volgens dr. Mulder bied die proporsionele kiesstelsel die geleentheid vir persone soos dr. Viljoen om by ʼn party aan te sluit wat hul waardes en belange verteenwoordig. Die tyd van een groot opposisieparty is verby en hoe meer volwasse die Suid-Afrikaanse demokrasie word, hoe groter rol sal ander partye speel wat hul kiesers se waardes in rade kan verteenwoordig en uiteindelik saam ʼn koalisieregering kan vorm.

 

Navrae:

Dr. Pieter Mulder: 083 419 5403 / 082 674 6670

Dr. Albe Viljoen: 082 571 5640