Brief in Beeld: Wie praat namens die Afrikaanssprekendes?

2014-08-29
Dr Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder, VF+leier, skryf:

Wie praat namens die Afrikaanssprekendes?

Ná ’n moeilike politieke vergadering waarin die een helfte van die saal hom toegejuig het en die ander helfte hom probeer doodskreeu het, het ’n politikus sy vergadering soos volg afgesluit: “Aan julle wat my ondersteun, ry veilig huis toe.

“Aan julle wat van my verskil, wie is ek om te sê hoe julle moet bestuur?”

Dawie Strydom skryf (Beeld 27 Augustus) “die oorgrote meerderheid van blanke Afrikaanssprekendes is moeg vir Steve Hofmeyr”.

Laat ons almal maar versigtig wees met sulke veralgemenings sonder bewyse.

Kan Dawie aantoon hoeveel Afrikaanssprekendes is vir en hoeveel is teen Steve?

Is dit ’n partypolitieke verdeling? Nee.

As hy die verkiesingsuitslae ontleed, sal hy sien dat die meerderheid van die 40 000 wat by Nelspruit saam met Steve “Die Stem” gesing het, het DA in die verkiesing gestem.

Dawie mag redeneer dat Beeld se redakteur Steve kritiseer en Beeld het ’n sirkulasie van meer as 50 000.

Maar praat Beeld se redakteur namens al Beeld se lesers, of is dit maar net die mening van ’n individu wat toevallig ’n koerant het om sy mening uit te dra?

Steve het 110 000 volgelinge op Twitter en het reeds bykans ’n miljoen CD’s verkoop.

Nege platinum- en dubbelplatinum-CD-verkope.

Is dit ’n aanduiding?

Die VF+ het 165 000 stemme in die verkiesing gekry.

Dit is drie keer Beeld se sirkulasie en vier Loftusse vol mense.

Dit is beduidend en ek kan sekerlik namens hulle praat. Tog mag ook ek nie veralgemeen en my aanmatig om namens alle Afrikaanssprekendes te praat nie.

Net so min kan Dawie of Beeld namens alle Afrikaanssprekendes praat.

Kom ons aanvaar die Afrikaanssprekendes van 2014 is net te uiteenlopend dat enigiemand hom/haar as hulle mondstuk kan aanstel.

Geluk, Steve, met jou 50ste verjaardag (Vrydag 29 Augustus) en soos die politikus hierbo gesê het: Ry veilig huis toe.