Artikel: 'n Vredesoplossing in Israel is moontlik - maar eers op 'n Woensdag

2015-09-29
Dr Pieter Mulder

“Waarom is daar elke vyftig tree ʼn bomskuiling maar geen bomskuiling by die kleuterskool nie?” vra ek die Israelse gids terwyl ons Kibboets Kfar Azza naby die grens met Gasa besoek.

“Omdat dit 22 sekondes duur vir ʼn Hamas vuurpyl om vanaf Gasa tot hier te kom,” antwoord die gids.

“Jy kan nie verder as vyftig meter beweeg in 22 sekondes nie – daarom elke vyftig meter ʼn bomskuiling. Die kleintjies in die kleuterskool kan nie in daardie tyd na ʼn bomskuiling geneem word nie, daarom het die kleuterskool ʼn versterkte betondak om die hele skool ʼn bomskuiling te maak,” verduidelik sy verder.

16 400 vuurpyle is die afgelope tien jaar uit Gasa op Israel geskiet.

Die “Iron Dome” missielstelsel beskerm Israelse dorpe verder weg vanaf Gasa deur Hamas missiele in die lug te onderskep. Hierdie Kibboets en die dorpie Sderot is te naby aan Gaza om so beskerm te word. Daarom word Sderot as die bomskuiling hoofstad van die wêreld beskryf, lag die gids.

By die kinderspeelparkie is daar ʼn lang helderkleurige geverfde betonslang. Die kinders weet dat as die boodskap “Tzeva Adom, Tzeva Adom (Rooi kleur, Rooi Kleur) oor die luidsprekers kom, hulle binne die slang, wat ook ʼn bomskuiling is, moet gaan skuil.

As Suid-Afrikaanse opposisieleiers besoek ek saam met prins Buthelezi van die IVP, generaal Holomisa van die UDM, mnr. Lekota van Cope en eerwaarde Meshoe van die ACDP Israel om eerstehands feite oor die Israel-Palestynse konflik te kry.

Ons besoek die Palestynse Wesbank en voer in Ramallah gesprekke met Palestynse leiers soos dr. Nabil Saath. As ʼn regterhand van Jasser Arafat was hy een van die hoofonderhandelaars by Oslo, het hy al waargeneem as Palestynse Eerste minister en is lid van die PLO sentrale komitee.

Op pad na dr. Saath moet ons by die ingang na die Wesbank van die Israeli bus oorklim na ʼn Palestynse bus. Ons kry ʼn nuwe busbestuurder, gids en veiligheidswagte. Daar is ʼn groot kennisgewingbord wat Israeli’s verbied om die gebied binne te gaan want hulle veiligheid kan nie gewaarborg word nie. Ek sien baie Palestynse vlae en een swart vlag wat na Isis s’n lyk.
“Hou julle Suid-Afrikaanse paspoorte byderhand indien iemand vra wie julle is,” was die laaste advies van die Israeli gids wat agterbly.

“Die Israeli’s het verlede jaar 2000 Palestyne in Gaza gedood. Hulle gee nie om om Moskees, huise en kleuterskole te bom nie. Hulle steel ons water en gun ons niks,” kla dr. Saath.

In elke gesprek in Israel word jy teruggeneem in die geskiedenis.

“Al Israel se grond is eintlik Palestynse grond. Die Bybel is nie ʼn staatkundige dokument wat kan bepaal hoe grond vandag verdeel word nie. Die Jode, wat eers die laaste honderd jaar hier aangekom het, kan nie met die Jode van 2000 jaar gelede verbind word nie. Ons het vir eeue hier gewoon, hulle het net ons grond kom vat,” argumenteer die Palestynse leiers.

En die Israelse leiers reageer: “Daar is 22 Arabiese state en maar een Israel. God het Israel aan die Jode gegee. Gaan lees die Bybel hoe die twaalf stamme elkeen ʼn deel van Kanaän gekry het. Volgens daardie indeling moet ons al die Palestynse gebiede en groot gedeeltes van Jordanië nog bykry. ʼn Palestynse gebied is ʼn toegewing wat ons in ruil vir vrede gee. Vir 2000 jaar het ons mekaar toegewens ‘Shana Haba B'yerushalayim – Volgende jaar in Jerusalem.’ Hoe kan enige een beweer ons het geen aanspraak hier nie.”

Dr Saath glo as Palestynse leier in die twee-staat oplossing -- ʼn Israelse en Palestynse staat naas mekaar. Die probleem is wie kry Jerusalem en wie verwyder die Israel nedersettings in die Palestynse gebied, volgens hom.

“Ons aanvaar ook ʼn tweestaat oplossing maar dr Shaath is verkeerd as hy sê ons steel hulle water,” sê minister Yuval Steinitz. Hy is Israel se minister van energie en watervoorsiening.

“Ons voorsien aan die Palestyne water van die vyf ontsoutingsinstallasies in Israel. Ons voorsien selfs water aan Jordanië en het genoeg water oor om sommige daarvan in die Jordaan in te pomp ten einde die Dooie See van meer water te voorsien. Israel is tans die voorste land in die wêreld sover dit die goedkoop ontsouting van seewater betref,” vervolg Steinitz.

Hy ontken nie dat talle Palestyne in die aanvalle op Gasa gedood is nie.

“Hamas skiet berekend hulle vuurpyle uit Moskees en selfs uit kleuterskole wetend dat ons die plekke sal aanval ten einde die vuurpylaanvalle te staak. Hulle weet hulle kan nooit militêr wen nie maar veg so ʼn propaganda-oorlog om die wêreld se simpatie te kry,” verduidelik minister Steinitz wat ook ʼn vorige minister van intelligensie was.

Hy was in sy jeug ʼn vredesaktivis van die liberale Peace Now (Shalom Achshav) beweging wat groot betogings teen die konserwatiewe regering gelei het. Nou is hy ʼn uitgesproke konserwatiewe Likud minister wat beweer die Palestyne wil nie vrede hê nie en sal nie rus voor Israel van die aarde gevee is nie.

Ek dink aan die kontroversiële rubriekskrywer Jani Allan. Sy het dit so gedefinieer: “A South African conservative is a liberal mugged by reality.” In minister Steinitz se geval is dit ook waar.

“Waarom nie onmiddellike onderhandelinge met die Palestyne om die twee-staatoplossing aanvaar te kry nie” vra ons afvaardiging.

“Met wie moet ons onderhandel?” vra die Israelse minister.

In 2005 is Mahmoud Abbas as Palestynse leier vir ʼn termyn van vier jaar gekies. Toe die volgende verkiesing in 2009 gehou moes word, is dit uitgestel weens die botsings en verskille tussen Hamas en Fatah, die Palestynse party van Abbas. Tot op datum, tien jaar later, is geen verkiesing gehou nie. Sommige Palestyne beweer dat Abbas nog net sy familie as ondersteuners het.

“ ʼn Leier sonder volgeling lei nie maar loop net ʼn entjie op sy eie en kan geen vredesooreenkoms namens ander teken nie,” volgens hulle.

Die Israelse minister toon daarna met syfers aan hoe die staatkundige omgewing rondom Israel ʼn kookpot van verandering is. Sirië is een van Israel se buurstate. Die helfte van Sirië se 22 miljoen burgers is ontwortel deur hulle burgeroorlog. Jemen is in chaos met aanvalle van Saoedi Arabië, so ook Irak en Libië. Onderliggend is daar ʼn doodstryd in die Moslem wêreld tussen die Soenni- en Shiite Moslems – twee verskillende interpretasies van die Moslem geloof.

Dit blyk dat die kunsmatige grense, soos deur die koloniale moondhede na die Eerste Wêreldoorlog vir hierdie streek getrek, in duie stort. Die Arabiese leiers het nie geslaag om nasionale identiteite te bou vir hulle kunsmatige state of om die lewe van hulle burgers te verbeter nie. Dit lyk of die grense hertrek word op grond van meer natuurlike stam en godsdienslyne. Die ironiese is dat die Moslems wat uit hierdie lande vlug nie na hulle Moslem broers in ander Arabiese state vlug nie, maar na Europa.

Hierby moet die radikalisering van Islam deur organisasies soos Isis, Hamas, Al-Kaïda en talle ander getel word. Nege sulke terroriste organisasies wat Israel se ondergang voorstaan, is aktief rondom Israel. “Hoe onderhandel jy met mense wat jou van die aarde wil afvee?” vra die minister.

Tydens ons Suid-Afrikaanse onderhandelinge het mnr. Mbeki by geleentheid gesê: “Partykeer kan iets nie op ʼn Maandag werk nie, maar werk dit op die Woensdag daarna.

Die huidige omstandighede rondom Israel skep beslis nie ʼn klimaat vir vredesonderhandelinge nie. As daar groter stabiliteit in die streek kom, mag die Woensdag vir suksesvolle onderhandelinge aanbreek. Tans is Israel die mees stabiele staat in die omgewing en ook die enigste demokratiese staat.

Demokratiese Israel? Is Israel nie ʼn apartheid staat, soos die Palestyne beweer nie?

Soos met Suid-Afrika die geval was, is dit maklik om ingewikkelde probleme tot enkele clichés soos apartheid te vereenvoudig en so ʼn land te probeer afskryf.

“Hoe kan dit apartheid wees as die 1,7 miljoen Arabiere stemreg vir die Israelse parlement het,” vra ʼn Israelse parlementslid. 21% van die bevolking is Arabiere en hulle het die derde grootste party, “Joint List”, in die Israelse parlement.

Ons ontmoet die Arabiese “Joint List” parlementslede. Hulle kla nie oor apartheid nie maar omdat hulle taal Arabies nie genoeg erkenning kry nie al is dit ʼn amptelike taal in Israel. Die vlag en volkslied akkommodeer hulle ook nie. Hulle klink soos die Afrikaanse minderheid in Suid-Afrika wat kla oor die ANC meerderheid wat sy wil op hulle afdwing.

“Hoekom wil hulle as Arabiere dan in Israel bly,” vra ons.

Omdat in die Arabiese state rondom Israel daar geen werklike demokrasie, stemreg of vryheid van spraak is nie. Waar vroue in Israel gelyke regte het, bestaan dit in geen Arabiese staat nie. In Saoedi Arabië mag vroue nie eers motor bestuur nie – wat nog stem!

Kan hulle lesse by ons in Suid-Afrika leer?

Hulle dink nie so nie. Ons geskiedenisse verskil te veel.

In Suid-Afrika het die koloniale moondheid Brittanje die Kaapkolonie (1806), Natal (1843) en die twee Boere republieke (1902) met oorlog verower en daarna saamgegooi om Britse Suid-Afrika in 1910 te vorm. Daarna het hulle ʼn eenstaat oplossing op ons almal afgedwing wat gemaak het dat Afrikaners ʼn minderheid in die land vorm sonder enige selfbeskikking of beheer oor eie sake.

ʼn Suid-Afrikaanse parallel met Israel sou wees as die koloniale moondhede Sirië, Jordanië, Libanon en Israel saamgegooi het, dit Britse Midde Ooste genoem het en dan ʼn eenstaat oplossing op hulle afgedwing het. Die Israeli’s gooi hulle hande in die lug as dit as ʼn oplossing deur lede van ons afvaardiging genoem word. Volgens hulle aanvaar 90% van die Israeli’s en baie Palestyne ʼn tweestaat oplossing. Daar word selfs van ʼn driestaat oplossing gepraat as die enigste uitweg vir volhoubare vrede omdat Hamas in Gasa die Palestynse owerheid in die Wesbank amper meer haat as die Israeli’s. Ons waardes verskil te veel, is die verduideliking.

Die ANC regering is ʼn sterk voorstander van ʼn tweestaat oplossing vir Israel en die Palestyne. Dit is vreemd om die Suid-Afrikaanse diplomate in Israel emosioneel te hoor argumenteer vir selfbeskikking en meer magte vir die Palestyne. Toe die IVP en die Vryheidsfront tydens die Suid-Afrikaanse onderhandelinge meer magte vir provinsies en federalisme vir Suid-Afrika voorgestel het, is dit deur die ANC en Roelf Meyer van die tafel gevee.

Die Israeli’s kan wel glad nie verstaan dat Roelf Meyer as ons hoofonderhandelaar na die onderhandelinge by die ANC aangesluit het nie. “Kan jy dink dat ons hoofonderhandelaar Likud-leier Premier Binyamin Netanyahu by Arafat se PLO sal aansluit. Ondenkbaar,” skud ʼn Israelse akademikus sy kop.

Kan Suid-Afrika help?

President Mandela het beide Israelse- en Palestynse leiers besoek en so groot invloed uitgeoefen. Die Zuma regering het van pro Palestyne na anti-Israel beweeg, volgens die Israeli’s. Daardeur knikker Suid-Afrika homself uit om enige geloofwaardige rol in die konflik te speel is hulle duidelike boodskap.

“Wat is hulle drie grootse probleme?” vra ons.

“Eerstens Iran, tweedens Iran en derdens Iran,” kom die antwoord.

“Die Duitsers het in twee jaar ses miljoen Jode doodgemaak. Hierdie naïewe Amerikaanse ooreenkoms met Iran sal maak dat ses miljoen Jode in twee minute doodgemaak word met ʼn atoombom,” verduidelik ʼn Israelse parlementslid. Dan haal hulle Iran se geestelike leier, Ajatolla Ali Khamenei aan wat na die ooreenkoms met Amerika gesê het: “Oor vyf en twintig jaar is daar geen Israel meer nie.”
Is daar oplossings vir die Midde Ooste?

Ja beslis. Met wyse leiers aan albei kante is ʼn twee- of selfs ʼn drie-staat oplossing moontlik. Sulke leiers moet wel ʼn mandaat van hulle volgelinge hê wat die onafwendbare kompromieë wat gemaak sal moet word, sal aanvaar. Israel het bewys dat hy kompromieë sal aangaan, soos die afgee van die Sinai skiereiland, in ruil vir sekuriteit.

Vir ʼn volhoubare skikking moet daar egter stabiele buurstate rondom Israel wees wat Israel se bestaansreg erken en hierdie skikking ondersteun deur druk op alle partye te plaas om dit in stand te hou. Tans bestaan hierdie omstandighede nie rondom Israel nie. Maar -- partykeer kan iets nie op ʼn Maandag werk nie, maar werk dit op die Woensdag daarna.