ANC, vakbonde stook onrus in die Kaap

2018-06-13
Die Redaksie

Die bestaande orde van die Wes-Kaap se tradisionele wit en bruin gemeenskappe word toenemend ontwrig deur grondbesettings en gewelddadige protesaksies wat die afgelope weke soos ʼn veldbrand oor die provinsie trek.

"Dit wil voorkom of die gebeure in Mitchells Plain begin Mei, ʼn domino-effek gehad het wat vinnig wyd uitgekring het en die rus en orde van stil gemeenskappe erg ontwrig het," sê Corné Mulder, VF Plus-provinsiale leier in die Wes-Kaap.

In die laaste weke was daar opstande by onder meer Philippi, Hermanus, Westlake, Parkwood, Dunoon, Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel terwyl daar selfs in die Bo-Kaap ook enkele voorvalle van gewelddadige protesaksies was.

Die oorsaak vir die onrus blyk sowat dieselfde te wees by al die brandpunte, naamlik onwettige grondbesettings wat oorgaan in gewelddadige protesaksies sodra die polisie ingryp.

Luidens mediaberigte is wetstoepassers veral bekommerd oor die hoë vlakke van geweld wat tydens die protesaksies voorkom.

"Die VF Plus het kennis geneem van die ondeurdagte optrede van die ANC en verskeie vakbonde in dié verband, asook die openlike aanhitsing van die EFF om grond onwettig te beset.

"Dit wil ook voorkom asof die behuisingstekort in die Wes-Kaap besig is om vinnig toe te neem, selfs in gebiede waar daar voorheen nie ʼn behuisingsnood was nie en die DA-regering nie in staat is om die situasie te beheer nie," sê Mulder.