Zuma verdraai ook die geskiedenis oor Eskom

2015-01-22
Adv Anton Alberts

Inligting oor kragvoorsiening in die jare negentig wat die VF Plus bekom het, bevestig opnuut dat pres. Jacob Zuma se toenemende pogings om die geskiedenis te verdraai, niks anders is nie as ʼn desperate poging om die ANC se klaaglike mislukking as regering te verbloem, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Energie.

In die proses teer hy op witskuldgevoel deur aanhoudend die rassekaart by te sleep terwyl dit duidelik is dat dit die ANC self se skuld is dat kraglewering in die jare negentig nie na behore by swart mense kon uitkom nie,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Zuma het verlede maand gesê Suid-Afrika se elektrisiteitsprobleme is ʼn produk van apartheid en die regering kan daarom nie beskuldig word vir die huidige probleme soos kragonderbrekings en beurtkrag nie.

Hy het gesê die voorsieningsnetwerk is ingerig om net ʼn bepaalde ras te bedien. Toe die ANC Eskom van die vorige regering ‘oorgeërf’ het, het dit slegs elektrisiteit aan die wit minderheid verskaf.

Volgens adv. Alberts is die teendeel waar en was Eskom uitstekend geplaas teen 1994 om die hele land van krag te voorsien. Dit was deel van sy beplanning om uit te brei na alle swart woongebiede, en dit was slegs die optrede van ANC wat met geweld verhinder het dat dienste in swart gebiede gelewer kon word.

“Inligting tot my beskikking wys dat Eskom in 1994 ʼn kragsurplus van sowat 3 000 megawatt gehad het met ʼn bykomende 4 000 megawatt wat vanaf omstreeks 1999 deur Majuba gelewer sou kon word.

“In daardie tyd was elektrisiteit reeds aangelê na die meeste swart woongebiede, maar die onstabiliteit en gevaarsone wat die ANC met sy protesoptrede geskep het, het veroorsaak dat installering nie na behore uitgevoer kon word nie.

“Waar daar wel ʼn diens gelewer is, was daar feitlik nie sprake van betaling nie weens die kultuur van nie-betaling vir dienste waarvan die uitwerking vandag nog gesien word. ʼn Goeie voorbeeld is Soweto waar daar tans sowat R10 miljard gemiddeld per jaar afgeskryf word.

“Voeg daarby ʼn reuse nes van diefstal en korrupsie oor die afgelope twintig jaar waarvan die besonderhede eersdaags bekend sal word, en dit is duidelik voor wie se deur Eskom se probleme gelê moet word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403