Wêreld moet Japanse slagting van dolfyne teenstaan

2014-01-31
Dr Pieter Mulder

Die Vryheidsfront Plus is dit eens met lande soos Amerika en Brittanje dat die jaarlikse slagting van dolfyne in Japan ‘n sinnelose en grusame tradisie is en dat wêreldleiers druk op Japan moet plaas om die slagting  stop te sit, sê dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus.

 

Dr. Mulder sê dolfyne is volgens die Wêreldbewaringsunie (IUCN) wat in Switserland gesetel is, ‘n bedreigde spesie en word weens verskeie faktore met uitwissing bedreig. Die grootste hiervan is die mens se invloed op die natuur.

 

Dolfyne is reeds sedert 2004 op die organisasie se sogenaamde ‘Rooi  Lys’ van erg bedreigde spesies.

 

“Wat in Japan gebeur wys opnuut hoe die mens al hoe meer die delikate balans van die natuur versteur wat so onontbeerlik vir sy eie oorlewing is.

 

“Navorsing van die IUCN toon aan dat dolfyngetalle in die Middellandse See oor die laaste sowat vier dekades met meer as 50% afgeneem het. Ander faktore soos oorbevissing, omgewingsveranderinge, en die agteruitgang en besoedeling van hul natuurlike habitat, is bydraende faktore.

 

“Die lyding van mens en dier op die planeet is vir niemand aangenaam om te aanskou nie. Hier dink ek veral aan die tienduisende diere wat die afgelope tyd in Suid-Afrika weens droogte gevrek het en die gepaardgaande lyding van mense.

 

“Wanneer die lyding en uitwissing egter totaal onnodig en wreed is, soos die slagting van die dolfyne in Taiji, kan ‘n mens nie daaroor swyg nie en moet die internasionale gemeenskap dit ten sterkste veroordeel,” sê dr. Mulder.

 

Vissers van Taiji, in die westelike Wakayama-provinsie van Japan, dryf jaarliks honderde dolfyne teen nette in ’n inham aan die kus. Van hulle word gevang en aan seeparke verkoop, terwyl ander doodgemaak word vir hul vleis. Luidens berigte is daar vanjaar sowat 40 dolfyne van kant gemaak.

 

 

Dr. Pieter Mulder

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403