Wreedheid van plaasmoord in KZN skok

2014-03-03
Dr Pieter Groenewald

“Die wreedheid van die moord op die Schutte-familie (Eckard, Elizabeth en Lutz) in KwaZulu-Natal is skokkend en getuig beslis nie van gewone misdadigheid nie. Meeste van die plaasmoorde gaan met wreedheid gepaard en dit wek die indruk dat dit rassisties en polities gedrewe kan wees. Dit is lankal tyd dat ’n ondersoek na wreedheid op spesifiek plaasmoorde gedoen moet word,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus

Die egpaar, Eckard (76) en Elizabeth Schutte, en hul seun Lutz (33), is so erg vermink dat die polisie gistermiddag nie met sekerheid kon sê hoe hulle vermoor is nie.

Volgens dr. Groenewald het ‘n polisiewoordvoerder aan die VF Plus gesê al drie het verskeie steekwonde aan hul liggame.  Mnr. Schutte se nek en bors is oopgesny, mev. Schutte se kop is met ‘n swaar voorwerp verbrysel en al drie is aan die brand gesteek. Die verdagtes het drie vuurwapens en ‘n voertuig geroof. Teen twee-uur vandag was hulle nog op vrye voete. Die polisie het gesê hulle het geen inligting oor moontlike verdagtes nie.

‘n Buurman van die oorledenes het vandag gesê die seun, Lutz, het Saterdag vanuit Duitsland in Suid-Afrika aangekom om sy pa te verras met sy 77ste verjaarsdag gister (Sondag). Sy ma het hom Saterdag by die lughawe gaan haal en met hul tuiskoms het die moordenaars hulle ingewag. Mnr. Schutte was vermoedelik toe reeds vermoor. Hul lyke is gistermiddag kort na twaalf gevind toe ‘n ander seun, Stefan, vir die verjaarsdagpartytjie by die huis opgedaag het.

“Hoewel die Sentrum vir die studie van Geweld en Versoening reeds ’n ondersoek na die redes van wreedheid van geweldsmisdade, in die algemeen in 2010 vrygestel het, was dit ‘n teleurstelling wat niks nuuts gesê het nie. Die verslag het geensins die oorsake van die wreedheid van geweldsmisdaad aangespreek nie, en het die algemene sosio-ekonomiese en sosio-politieke probleme van geweldsmisdaad aangespreek. Selfs die Polisie het erken dat die verslag niks nuuts bevind het nie. R3.5 miljoen was spandeer om die kultuur van geweld te wyte aan opvoeding, armoede, werkloosheid en apartheid, toe te skryf. Armoede en werkloosheid is swak verskonings vir geweldsmisdaad, aangesien daar baie ander lande is met meer armoede en werkloosheid as Suid-Afrika. Die Vryheidsfront Plus sal die minister van Polisie versoek om weer ondersoek in te stel,” het Groenewald gesê.   

 

Sel: 083 627 4397