Wreedheid van Barkly-Oos plaasmoord nie gewone misdadigheid nie

2013-10-17
Dr Pieter Groenewald

“Die wreedheid wat gepaard gaan met plaasmoorde soos die op die De Villiers-egpaar van Barkly-Oos, getuig nie van gewone misdadigheid nie. Plaasmoorde word te maklik afgemaak as deel van gewone misdadigheid. ‘n Vorige ondersoek na die wreedheid van plaasmoorde in opdrag van die minister van Polisie, mnr. Nathi Mthethwa, was ‘n mislukking en ‘n nuwe ondersoek moet gedoen word,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Polisie van die Vryheidsfront Plus.

“Die verslag in 2010 deur die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening wat R3,5 miljoen gekos het, het geensins die oorsake van wreedheid by moorde aangespreek nie en algemene sosio-ekonomiese en sosio-politieke probleme van geweldsmisdaad getoon.

Plaasmoorde se verhouding tot die bevolking is 98 per 100 000, teenoor die 31 per 100 000 van moord in Suid-Afrika. Dit is duidelik dat dit ‘n ernstige probleem is en dat die boeregemeenskap geteiken word. Die slagting op Suid-Afrikaanse plase duur steeds voort en nieteenstaande talle oproepe van die Vryheidsfront Plus dat die regering plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar, word geen vinger verroer om daadwerklik daaraan aandag te gee nie. Die gemeenskap kan dan nie verkwalik word as woede en dreigemente van reg in eie hande neem, ontstaan nie,” het Groenewald gesê.

Groenewald het die Polisie geloof vir hulle flinke optrede om die misdadiger vinnig in hegtenis te neem. Hy het egter bygevoeg dat sektorpolisiëring, veral op die platteland, gebrekkig is en deel van die probleem van plaasaanvalle en plaasmoorde is en dat die Polisie daadwerklik aandag daaraan sal moet gee.

 

DR. PIETER GROENEWALD

Kontaknommer: 083 627 4397