Wrede sleepdood van kind wys misdaad in Suid-Afrika is buite beheer

2014-07-21
Adv Anton Alberts

Die wrede sleepdood van die vierjarige Taegrin Morris van Delmore Park, Boksburg, aan die hand van kapers, wys ondubbelsinnig dat misdaad in Suid-Afrika buite beheer is, al word dit hoe hard ontken deur die ANC-regering, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se leier in Gauteng.

Hy sê daar sal weer ernstig besin moet word om misdaad wat met sulke wreedheid gepaard gaan, met die dood te straf.

“Luidens mediaberigte is Taegrin vermink nadat hy in ‘n veiligheidsgordel van sy ma se gekaapte motor verstrengel geraak het en sowat 10 km langs die voertuig gesleep is.

“Dit is ondenkbaar hoe sy ouers, Chantel en Elvin, moet voel en die VF Plus wil sy diepste medelye met die gesin betuig. Dit kan bloot nie so voortgaan nie. Die vermoë van die polisie om misdaad onder beheer te bring, sal opnuut belig moet word,” sê adv. Alberts.

Oor die voorval waar ‘n 5-jarige seun ongedeerd gevind is nadat hy verlede week Dinsdag vermis geraak het tydens ‘n motorkaping, sê adv. Alberts dit is verblydend dat die voorval vandag nie nog ‘n tragiese stukkie statistiek in die nuusblaaie is nie.

“In hierdie geval kan ons net saam met die gesin dankbaar wees. Maar, soos met Taegrin Morris, is dit iets wat nooit moes gebeur het nie.

“Die invloed van misdaad op die lewe van Suid-Afrika se mense raak al hoe groter, en die VF Plus sal aanhou veg om die land weer ‘n veilige tuiste vir al sy burgers te maak, sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403