Wetsontwerp vir heropening van grondeise teengestaan

2014-02-18
Dr Pieter Groenewald

‘n Mosie in die Nasionale Vergadering oor die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte is vandag deur die Vryheidsfront Plus teengestaan. Die mosie is egter aanvaar nadat die Vryheidsfront Plus ‘n stemming afgedwing het. Net die VF Plus het teen die mosie gestem. Volgens die wetsontwerp sal grondeise vir vyf jaar heropen word. 

“Die heropening van grondeise gaan groot onsekerheid in die landbousektor skep. Nuwe eise kan veroorsaak dat dit nog twintig jaar mag neem om al die nuwe eise af te handel. Politieke partye wat hierdie wetgewing steun benadeel kommersiële landbou en voedselsekerheid in Suid-Afrika. Die wetsontwerp bring ook eiendomsreg, wat die hoeksteen van die vrye mark ekonomie is, in gedrang. Indien die ANC ernstig is oor voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit in Suid-Afrika, sal hulle die wetsontwerp onttrek,” sê dr Pieter Groenewald

Vanweë die moontlikheid van ’n grondeis, brei meeste boere op die oomblik nie hulle landboubedrywighede uit nie. Op hierdie tydstip het die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor sekerheid oor die toekoms nodig om met nuwe beleggings en uitbreidings te verseker dat daar genoeg kos vir almal in die toekoms is.

Wat Suid-Afrika tans nodig het, is dat die landbougrond wat reeds aan nuwe swart boere oorgedra is, suksesvol kos moet produseer. Suid-Afrika kort meer suksesvolle swart kommersiële boere. Nege uit tien van die oordragte van grond het misluk volgens syfers wat minister Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, verskaf het. Ons kan nie bekostig dat nog vrugbare grond onproduktief raak nie terwyl die bevolking groei en daar daagliks meer voedsel nodig is nie.

Die oplossing vir voedselsekerheid lê in ’n ander rigting. Miljoene hektaar baie vrugbare landbougrond lê tans onbenut in die ou tuislande as kommunale grond. So ook groot hoeveelhede staatsgrond. ’n Belangrike prioriteit van die regering behoort te wees om ’n oplossing te soek oor hoe hierdie grond aan private swart boere oorgedra kan word. Waar 70% van alle Suid-Afrikaners binnekort in die stede gaan woon, is dit belangrik dat hierdie grond op ’n kommersiële basis kos begin produseer. Tans word dit hoofsaaklik vir bestaansboerdery gebruik.

 

Kontaknommers: 083 627 4397