Wet op Nasionale Sleutelpunte deur ANC-regering misbruik

2013-11-08
Dr Pieter Groenewald

Die ANC-regering het die Wet op Nasionale Sleutelpunte misbruik om die korrupsie by Nkandla toe te smeer, en wil hê die publiek moet goedsmoeds glo wat hy sê ‘n nasionale sleutelpunt is, al is daar nie bewyse daarvoor nie, sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier.

“Dit is eintlik ‘n goeie voorbeeld dat daar reuse misbruik gemaak is van hierdie wet om toe te smeer wat by Nkandla gebeur het.

“Wat is die belangrike strategiese waarde van Nkandla vir die land? Watse bedreiging is daar vir Suid-Afrika as daar ‘n aanval is op Nkandla?  Wie gaan in elke geval ‘n aanval wil doen op Nkandla? Dit is die werklikheid van die saak.

“Die Vryheidsfront Plus stem saam daar moet ‘n wet op nasionale sleutelpunte wees. Terrorisme is lewendig in die wêreld. Daarom moet daar so ‘n wet wees, maar dit moet duidelik wees.

“Indien die wysigingswetsontwerp op hierdie tafel van die parlement beland, moet daar duidelike kriteria wees oor waarom ‘n bepaalde plek of instelling ‘n nasionale sleutelpunt moet wees.

“Soos dit tans is, geld die Afrikaanse gesegde dat hierdie definisie so wyd is as die Heer se genade. ‘n Mens kan met drie ossewaens daarbinne draai. Dit is wanneer daar misbruik gemaak word deur ‘n ANC-regering wat korrupsie wil toesmeer en dit kan Suid-Afrika nie bekostig nie.

“Natuurlik is daar militêre instellings, maar daar is nie ‘n wet op nasionale sleutelpunte nodig om dit te beskerm nie. Die Verdedigingswet gee daardie magtiging dat militêre instellings ‘n beperkte gebied is. Dit geld ook die Waterkloof-lugmagbasis. Toe was daar ook verwarring.

“U het nou net gesê al die vorige presidente se huise was nasionale sleutelpunte. Hoe weet ons dit? Ek moet u woord daarvoor neem, maar ek het nie bewyse daarvoor nie Ek kan u dalk vertrou, maar more is daar ‘n nuwe minister in u plek wat ek nie vertrou nie en dat moet ek net weer aanvaar wat hy vir my sê.

“Dit is onaanvaarbaar dat wanneer ‘n minister sê iets is ‘n nasionale sleutelpunt, dan is dit een. Die VF Plus sal die wet ondersteun, maar dit moet verander word. Daar moet ‘n duidelike definisie en kriteria wees van wanneer ‘n installasie ‘n nasionale sleutelpunt is,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403