Weermaglid in wildtuin getuig van swak dissipline

2015-01-12
Dr Pieter Groenewald

“Die insident tussen ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en ’n veldwagter in die Krugerwildtuin, plaas opnuut die kollig op die probleme binne die land se gewapende magte en getuig van swak dissipline in die SANW. Die weermaglid, sktr. Alfons Mosiuwa Mofula van 21 SA Infanteriebataljon, moet dadelik afgedank word,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Verdediging vir die Vryheidsfront Plus.

“Swak dissipline in die SANW is besig om kritieke vlakke te bereik. Verskeie gevalle van swak dissipline het die afgelope paar jare plaasgevind sonder dat daar behoorlik dissiplinêr opgetree is teen die oortreders.

“Voorbeelde is die kolonel met pantoffels, wangedrag van soldate in Burundi waar selfs ’n medesoldaat doodgeskiet is, die ander gevalle is persone soos genl.maj. Nontobeko Mpaxa, wat verskeie oortredings soos dronkbestuur en onregmatige optredes teen ondergeskiktes begaan het, maar bevorder word, ’n senior offisier wat in ’n besope toestand die Polisie dreig in Oudtshoorn wat neerkom op sedisie, die duikboot, SAS Queen Modjadji, se botsing met die seebodem weens nalatigheid, ensovoorts.

“Indien nie daadwerklik opgetree word teen swak dissipline nie, gaan verdere lewensverliese volg en word die SANW ’n bedreiging vir homself. Wat jy saai sal jy maai,” het Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403