Weer eens chaos in Mangaung-raadsitting – VF Plus stap uit

2016-02-25
Die Redaksie

Dr Elizabeth Snyman-van Deventer, raadslid van die Vryheidsfront Plus in die Mangaung-metro, het gesê dat die raadsvergadering van die Mangaung-metroraad vandag weer eens, soos elke raadsvergadering, in chaos gedompel was weens die onbevoegdheid van die ANC as regeerder van Mangaung.

Die onvermoë van die speaker om raadslede te beheer en om sy diskresie onbelemmerd en onpartydig uit te oefen, het bygedra tot wanorde in die raad. Die speaker het die hele vergadering as ʼn grap hanteer en met verskeie verwysings na die sepie, Generations, die werksaamhede van die raad ondermyn.

Die eintlike grap is dat op ʼn gereelde basis mediaverklarings na raadsvergaderings uitgereik word met presies dieselfde strekking, naamlik dat die raadsvergaderings ontaard in chaos as gevolg van die speaker se swak hantering van vergaderings. Die VF Plus betreur hierdie onaanvaarbare optrede van die speaker.

Die optrede van veral ANC-raadslid Pongola, ʼn lid van die burgemeesterskomitee, asook raadslid Mosia van die DA het verder daartoe bygedra dat die raad in ʼn sirkus ontaard het. Sekuriteit is weereens ingeroep om ʼn DA-raadslid te verwyder. Dit is totaal onaanvaarbaar en ondermyn die noodsaaklike funksionering wat in die raad nodig is om te verseker dat die belange van al die metro se inwoners die eerste prioriteit is.

In protes teen hierdie optrede van raadslede, maar veral die hantering van die vergadering deur die speaker van die raad, het die VF Plus uit die vergadering geloop. Dr Snyman-van Deventer sê dat die gedrag van hierdie raadslede die oorsigrol van die raad belemmer en demokratiese prosesse ondermyn. Die aksies bedreig die funksionaliteit van die raad binne die munisipaliteit.

 

Dr Elizabeth Snyman-van Deventer

082 305 1540