Wat het geword van die weermag wat die ANC geërf het

2015-05-19
Dr Pieter Groenewald

In 1994 het oud-president Nelson Mandela self gesê die ANC het ʼn goeie, gedissiplineerde weermag geërf. Vandag kan die vraag met opregtheid gevra word wat van dié weermag geword het, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gesê die weermag is daarna verder uitgebou en gemoderniseer met ʼn wapenaankoop-program van R30 miljard wat uiteindelik tot R70 miljard geëskaleer het.

In die proses is onder meer gesofistikeerde Gripen-vegvliegtuie en duikbote aangekoop wat met die beste in die wêreld vergelyk het.

“Die militêre erfporsie van die ANC in 1994 was goed en modern. Maar wat het intussen gebeur? Ons het soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek verloor terwyl die Gripens weggesteek in ʼn stoor gestaan het.

“In ʼn ander geval het ons gesien hoe ʼn nuwe duikboot teen die seebodem vasduik. Wat het geword van standaarde en dissipline?

“Ons hoor van ʼn vrouekolonel wat met pienk pantoffels in die openbaar rondloop terwyl sy aan diens is. Op Oudtshoorn het ʼn offisier soldate van die weermag se reaksie-eenheid met skerppunt-ammunisie geaktiveer en in konflik met die Suid-Afrikaanse Polisiediens gebring om ʼn makker te ontset.

“Daar is glo teen dié lede opgetree, maar watter stappe is teen hulle geneem? Daardie offisier wat sy manskappe byna met die polisie laat bots het, het sedisie gepleeg. Hy moes onmiddellik ontslaan gewees het.

“Daardie geval behoort ook vir die regering te sê dat ongedissiplineerde soldate tot enigiets in staat is, selfs ʼn staatsgreep.

“Met al bogenoemde kan ʼn mens net vra: Wat het van die professionele, gedissiplineerde weermag-erfenis geword? Die publiek sal hierop geantwoord moet word,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403