Wanbestuur vermoor mense

2014-07-10
Wouter Wessels

Die Vryheidsfront Plus het vandag die hantering van die gesondheidskrisis in die Vrystaat deur die ANC en die wyse waarop hulle die debat oor die Departement van Gesondheid gister in die Vrystaatse Wetgewer benader het, ten sterkste veroordeel.

Die ANC-lede in die Wetgewer het ‘n bespotting en ‘n sirkus van die debat gemaak en ontken dat daar enigsins ‘n krisis in die Departement bestaan.

Die LUR het eerder gekies om lede van die opposisie persoonlik te beledig en hulle allerhande psigiatriese afwykings en ander siektes toe te skryf. Dit is kommerwekkend dat die regerende party, die Wetgewer as instelling minag en nie ernstig debatteer oor ‘n kwessie so belangrik soos gesondheidsorg in die Vrystaat nie. Die ANC gee voor asof die Departement van Gesondheid slegs klein uitdagings in die gesig staar en slegs ‘n paar golfies moet oorkom, terwyl die Departement onder administrasie geplaas is en op grondvlak daar ‘n totale krisis t.o.v. ‘n tekort aan medisyne, mediese toerusting en ander noodsaaklikhede bestaan. Die Departement is in finansiële chaos.

Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, het tydens die debat gesê dat die wanadministrasie en veral finansiële wanbestuur van die Departement besig is om mense in die Vrystaat te vermoor. Wessels het ook gevra of die LPWs van die ANC van openbare hospitale gebruik maak en of hul eerder veilige, privaat hospitale besoek, terwyl die armes en weerloses in die Vrystaat geen ander keuse het as om openbare hospitale te besoek nie.

Die feit dat die ANC apartheid vir alles wat verkeerd is in die Vrystaat blameer, spreek van ‘n regering wat voeling met die werklikheid verloor het. Dit is onaanvaarbaar dat die ANC-regering nie die krisis erken en daadwerklik optree, eerder as om hande in die lig te gooi en apartheid vir die krisis te blameer nie.

Die ANC-regering in die Vrystaat is magsbehep, ignoreer alle reëls en prosedures en is besig met ‘n tirannie van die meerderheid, terwyl die mense van die Vrystaat ly.

 

082 674 6670