Wanbestuur van Moqhaka-plaaslike munisipaliteit skandelik

2017-02-14
Me. Jean Hatting

Die wanbestuur van die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit, wat Kroonstad, Viljoenskroon, Steynsrus en Vierfontein insluit, is skokkend en skandelik van aard.

Jean Hattingh, VF Plus-raadslid in die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit het hierdie stelling na aanleiding van die verslag van die Ouditeur-Generaal vir die 2015/2016 finansiële jaar gemaak.

Die prentjie wat deur die verslag geskets word is een van growwe nalatige en onbevoegde bestuur, die bestek waarvan amper krimineel van aard is.

Onreëlmatige uitgawes ten bedrae van R29.7 miljoen en ongemagtigde uitgawes ten bedrae van R190.5 miljoen is duidend op die algehele onbevoegdheid van die ANC-regering om die munisipaliteit behoorlik te bestuur.

Elektrisiteit- en waterverliese beloop R55.8 miljoen en R15 miljoen onderskeidelik – dit in ‘n munisipaliteit wat gedurende dieselfde finansiële jaar onder ‘n nypende waterkrisis gebuk gegaan het.

Die munisipaliteit moes vroeër die jaar inderhaas afbetalingsooreenkomste met Eskom aangaan om te verhoed dat die elektrisiteitstoevoer afgesny word weens uitstaande skuld wat byna gelykstaande is aan die elektrisiteitsverlies vir dié finansiële jaar.

Die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit het vir die 2015/2016 finansiële jaar ‘n netto verlies van R83.9 miljoen getoon en sy laste oorskry sy bates met R76.6 miljoen. Die munisipaliteit is dus nie ‘n lopende saak nie en vir alle praktiese doeleindes bankrot.

Oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur sluit in dat redelike stappe om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes te verhoed, nie ingevolge artikel 62(1)(d) van die Wet gevolg is nie.

Onreëlmatige uitgawes is nie ondersoek soos vereis deur die Wet nie en dus is geen amptenare hiervoor aanspreeklik gehou nie.

In die lig van hierdie statutêre oortredings sal die VF Plus strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder aanhangig maak, aangesien hy die rekenpligtige amptenaar is en moes toesien dat die nodige wetgewing toegepas word.

Die VF Plus sal nie sulke wanbestuur duld nie en die gemeenskap van Moqhaka behoort dit ook nie te aanvaar nie.

 

Kontakbesonderhede: 083 406 8714