Vryheidsdag

2014-04-27
Dr Pieter Mulder

Suid-Afrika is ’n land met ongelooflike potensiaal en talent. As dit reg aangewend word gaan ons ruimte skep vir al die land se inwoners en die verskillende gemeenskappe om voorspoedig en in vrede en harmonie saam te leef. As selfsug, selfverryking en korrupsie egter die oorhand kry, gaan ons die pad van baie ander mislukte state loop.

As die afgelope 20 jaar in SA eendag polities beoordeel word, sal dit as ‘n tydperk van verlore geleenthede beskryf word. Die gees en gesindheid van 1994, waar almal entoesiasties ’n bydrae wou maak om SA ’n beter plek te maak, het verlore gegaan. As gevolg van byvoorbeeld regstellende aksie en die onnodige vervanging van ervare staatsamptenare is die volle potensiaal van al SA se mense nie benut nie.

’n Bestek-opname van die afgelope 20 jaar wys uit dat werkloosheid, misdaad, armoede en die polarisasie tussen groepe dringend aangespreek moet word om ’n beter toekoms vir almal te verseker. Om armoede aan te spreek moet die ekonomie toegelaat word om meer te groei. Dit gaan slegs moontlik wees as
weer na die huidige beperkinge op die ekonomie soos die arbeidswette, onnodige rompslomp en onregverdige regstellende aksie gekyk word.

As ’n gestremde persoon of ’n arm kind om ekonomiese redes bevoordeel word, is dit aanvaarbaar as regstelling. As ras 20 jaar na 1994 egter steeds as enigste kriterium vir regstelling en ekonomiese bemagtiging gebruik word, vernietig dit die grondwet van 1994 se drome van geen diskriminasie op grond
van ras, geloof, geslag of taal nie.

Dit is hierdie tipe diskriminasie wat maak dat 27 April vandag steeds meer die betekenis kry van die oorwinning van een groep oor die ander in plaas van die versoening wat dit veronderstel is om te simboliseer. Een voorbeeld:

’n Kind wat 27 April 1994 gebore is, is vandag 20 jaar oud en gaan vanjaar stem. Kinders wat gebore is in 1990 toe mnr. Nelson Mandela vrygelaat is, is vanjaar 24 jaar oud met geen werklike ervaring van apartheid of die tyd voor 1990 nie. Daar is geen rede waarom daar teen so ’n “nuwe Suid-Afrika-kind” gediskrimineer moet word op grond van ras wanneer hy/sy byvoorbeeld aansoek doen vir werk of vir toelating tot ’n universiteit nie. Tog gebeur dit daagliks. Die rasgebaseerde bevorderingskriteria wat by staatsdepartemente
gebruik word en die rassistiese toelatingsbeleide van sekere universiteite is slegs enkele voorbeelde.

Sake soos bogenoemde lei tot ’n ongesonde polarisering, wat steeds tussen gemeenskappe in Suid-Afrika plaasvind. Die grondwetlike skikking van 1994 was in hierdie opsigte gebrekkig om permanente oplossing vir bogenoemde probleme te gee. ’n Nuwe skikking, waar spesifiek groter klem op minderheidsregte geplaas
word, kan hierdie probleme oplos en polarisering teenwerk.

 

 

Kontaknommers:
082 674 6670 / 083 419 5403